Ou Testament

Nuwe Testament

Lukas 9:36-43 Die Boodskap (DB)

36. Na hierdie woorde was die wolk skielik weg. Jesus het alleen daar gestaan. Die dissipels het vir niemand vertel wat hulle gesien het nie.

37. Die volgende dag het hulle van die berg af geklim. Toe hulle onder kom, het ’n groot klomp mense Jesus ingewag.

38. ’n Man daar in die skare het skielik hard uitgeroep: “Goeie Leermeester, ek smeek U, help my seun, asseblief. Hy is my enigste kind. En hy ly verskriklik.

39. Ek dink hy is in die mag van ’n bose gees. Hy kry sulke snaakse aanvalle. Dan begin hy skree en sy hele liggaam gaan aan die ruk. Skuim loop ook by sy mond uit. Die aanvalle hou omtrent nooit op nie. My arme kind is al behoorlik verniel.

40. Ek het hom na u dissipels toe gevat, maar hulle kon niks vir hom doen nie.”

41. Jesus het dadelik na sy dissipels toe gedraai en vir hulle gesê: “Julle klomp ongelowiges! Hoeveel keer moet Ek dieselfde dinge oor en oor sê en doen voordat julle regtig glo? My geduld met julle is vinnig besig om op te raak.”Jesus sê toe vir die man: “Bring jou seun hier.”

42. Toe die seun by Jesus kom, het die bose mag hom weer beetgepak. Sy hele liggaam het inmekaargetrek en hy het wild begin ruk. Jesus het dadelik die bose gees beveel om uit hom pad te gee. In ’n oogwink was die bose mag weg. Jesus het die seun toe gesond aan sy dankbare pa teruggegee.

43. Almal wat gesien het wat gebeur, was verstom. “God is regtig groot,” het hulle vir mekaar gesê.

Lees volledige hoofstuk Lukas 9