Ou Testament

Nuwe Testament

Lukas 9:1-10 Die Boodskap (DB)

1. Kort daarna het Jesus sy twaalf dissipels bymekaargeroep. Hy sê toe vir hulle: “Ek maak julle nou sterker as al die bose magte. Ek gee ook aan julle die krag om siekes gesond te maak. Gaan dan nou uit en vertel vir die mense dat God se nuwe wêreld hier is. Maak ook die siekes gesond.”

2. Jesus het ook vir die dissipels vertel presies hoe hulle te werk moet gaan.

3. “Moenie ’n groot tas saamvat, of ’n klomp padkos of ’n dik beursie vol geld nie. Een stel klere is meer as genoeg.

4. “Wanneer julle in ’n huis goed ontvang word, bly daar oor totdat dit tyd is dat julle na ’n volgende plek toe moet gaan.

5. Maar as die mense julle nie vriendelik ontvang nie, gee dadelik pad. Moenie verder sukkel nie. Gaan dan na ’n ander dorp toe. Maar skud eers in die openbaar al die stof van daardie dorp uit julle klere uit. So wys julle dat hulle hulle kans verspeel het om deel te word van God se nuwe wêreld.”

6. Die dissipels het gedoen wat Jesus vir hulle gesê het. Hulle het van dorp tot dorp vir die mense van God se nuwe wêreld gaan vertel en die siekes gesond gemaak.

7. Herodes Antipas, die heerser oor Galilea, het intussen te hore gekom van al die groot dinge wat Jesus doen. Hy was bekommerd daaroor, want party mense het gesê: “Jesus is Johannes die Doper wat weer lewend geword het.”

8. Ander het gesê: “Nee, ons dink hy is die profeet Elia wat weer na ons toe gekom het.”Nog ander het gesê: “Hy is een van die ander profete wat weer lewendig geword het.”

9. Herodes het toe vir sy raadgewers gesê: “Vergeet nou maar die storie dat hierdie man Johannes die Doper is. Kyk, ek het Johannes se kop laat afkap. Hy is morsdood. Maar wie is hierdie man dan? Ek moet hom eenvoudig te sien kry!”

10. Intussen het die twaalf dissipels van Jesus teruggekeer van hulle sending en opgewonde vir Hom kom vertel van alles wat hulle gedoen het. Toe sê Hy vir hulle: “Kom saam met My daar na die omgewing van Betsaida toe. Ek wil graag ’n bietjie alleen wees.”

Lees volledige hoofstuk Lukas 9