Ou Testament

Nuwe Testament

Lukas 8:43-56 Die Boodskap (DB)

43. Intussen was daar ook ’n vrou in die skare wat al twaalf jaar lank aan ’n menstruele kwaal gely het. Dit het gemaak dat sy nie kon deelneem aan die normale godsdienstige aktiwiteite nie omdat sy as onrein beskou is. Geen dokter kon die arme vrou gesond kry nie.

44. Hierdie vrou het tussen die skare deurgeskuur totdat sy reg agter Jesus was. Toe steek sy haar hand vinnig uit en vat aan die soom van sy klere. Daar en dan was sy gesond.

45. Jesus het dit dadelik agtergekom en gevra: “Wie het nou net aan My geraak?” Maar almal het net die kop geskud en gesê: “Nie ek nie.” Petrus was so ’n bietjie uit die veld geslaan deur Jesus se vraag. “Here, daar is baie mense om U. Hulle almal skuur tog teen U verby en stamp teen U.”

46. “Kyk, iemand het met ’n baie spesifieke rede aan My gevat,” het Jesus geantwoord. “Ek kon voel hoe krag uit My vloei.”

47. Nou was die vrou in ’n hoek. Sy kon nie langer stilbly nie. Doodbang het sy voor Jesus kom neerval. Daar voor almal vertel sy toe hoekom sy aan Jesus kom raak het. “En,” het sy gesê, “ek was op die plek gesond.”

48. Toe sê Jesus vir die vrou: “Jy het gewys hoe groot jou geloof is toe jy aan My kom raak het. Daarom is jy nou gesond. Gaan in vrede.”

49. Terwyl Jesus nog besig was om te praat, kom daar iemand van die huis van die hoof van die sinagoge af en sê vir hom: “Ek het baie slegte nuus: jou dogter is nou net dood. Los maar die Leermeester uit. Hy kan nou niks meer vir haar doen nie.”

50. Maar Jesus het dit gehoor. Hy sê toe vir die hoof van die sinagoge: “Moenie jou ontstel nie. Hou maar net aan glo. Jou dogter sal regkom.”

51. Toe Jesus daar by sy huis aankom, het Hy vir die mense wat saam met Hom gestap het, gesê om buite te wag. Hy het net vir Petrus, Johannes en Jakobus toegelaat om saam met Hom na die dogter toe gaan; ook haar pa en ma.

52. Toe Jesus in die huis kom, was almal aan die huil. Hy sê toe vir hulle: “Toemaar, dis nie nodig om te huil nie. Die dogtertjie is glad nie dood nie. Sy slaap maar net.”

53. Die mense het Jesus uitgelag: “Jy weet nie waarvan jy praat nie. Ons het met ons eie oë gesien sy is dood.”

54. Maar Jesus het hulle geïgnoreer en na die dogtertjie toe gestap. Hy het haar hand gevat en uitgeroep: “Dogtertjie, staan op! Word lewendig!”

55. Dadelik het die lewe in haar teruggekom. Sy het opgestaan. Toe sê Jesus vir die omstanders:

56. “Gee vir haar iets om te eet.” Haar ouers was stom van verbasing oor wat gebeur het. Maar Jesus wou nie hê dat hulle vir ander mense daarvan moes vertel nie.

Lees volledige hoofstuk Lukas 8