Ou Testament

Nuwe Testament

Lukas 8:41-47 Die Boodskap (DB)

41. ’n Man met die naam Jaïrus, een van die hoofde van die sinagoge waar die Jode God aanbid het, het haastig tussen die mense deurgevleg en voor Jesus op die grond kom neerval.

42. Hy het Jesus gesmeek om dadelik na sy huis toe te kom omdat sy twaalfjarige dogter op sterwe gelê het. Dit was sy enigste dogter. Jesus het ingestem, maar daar was so baie mense om Hom dat Hy skaars kon beweeg.

43. Intussen was daar ook ’n vrou in die skare wat al twaalf jaar lank aan ’n menstruele kwaal gely het. Dit het gemaak dat sy nie kon deelneem aan die normale godsdienstige aktiwiteite nie omdat sy as onrein beskou is. Geen dokter kon die arme vrou gesond kry nie.

44. Hierdie vrou het tussen die skare deurgeskuur totdat sy reg agter Jesus was. Toe steek sy haar hand vinnig uit en vat aan die soom van sy klere. Daar en dan was sy gesond.

45. Jesus het dit dadelik agtergekom en gevra: “Wie het nou net aan My geraak?” Maar almal het net die kop geskud en gesê: “Nie ek nie.” Petrus was so ’n bietjie uit die veld geslaan deur Jesus se vraag. “Here, daar is baie mense om U. Hulle almal skuur tog teen U verby en stamp teen U.”

46. “Kyk, iemand het met ’n baie spesifieke rede aan My gevat,” het Jesus geantwoord. “Ek kon voel hoe krag uit My vloei.”

47. Nou was die vrou in ’n hoek. Sy kon nie langer stilbly nie. Doodbang het sy voor Jesus kom neerval. Daar voor almal vertel sy toe hoekom sy aan Jesus kom raak het. “En,” het sy gesê, “ek was op die plek gesond.”

Lees volledige hoofstuk Lukas 8