Ou Testament

Nuwe Testament

Lukas 8:25-40 Die Boodskap (DB)

25. Toe draai Jesus na sy dissipels en vra vir hulle: “Waar is julle geloof heen?” Maar hulle was te bang en te verbaas om enigiets te sê.Hulle het onderlangs vir mekaar gefluister: “Wat ’n ongelooflike wonderwerk! Wie is Jesus regtig? Hy gee net ’n bevel, dan luister selfs die wind en die water na Hom.”

26. Daarna het hulle met die boot in die rigting van die land van die Geraseners, aan die oorkant van Galilea, geseil.

27. Daar aangekom, het ’n man sonder ’n draad klere aan vinnig op Jesus afgestap. Hy was al ’n lang tyd in die mag van ’n klomp duiwels; daarom dat hy nie meer klere gedra het nie. Hy het sommer daar buite tussen die grafte gebly. Die duiwels het hierdie arme man omtrent verrinneweer. Baiekeer het hulle hom soos ’n mal mens laat rondhardloop en skree. Ander mense het tevergeefs probeer om hom in toom te hou. Hulle het sy hande met swaar kettings vasgebind en dik boeie om sy voete gesit, maar hy het dit gebreek en dan weggehardloop. Later het hy omtrent heeltyd in die woestyn rondgeswerf.

28-29. Toe hierdie man naby Jesus kom, het hy skielik aan die skree gegaan en op die grond neergeval. Hy roep toe kliphard uit: “Vir wat kom U hier na my toe, Jesus, Seun van die allerhoogste God? Ek smeek U: moet my asseblief nie seermaak nie.”

30. Toe vra Jesus vir die man: “Wat is jou naam?” “Legio,” het hy geantwoord. (Dit was die naam wat die mense hom gegee het omdat daar so baie duiwels in hom gebly het.)

31. Toe begin die duiwels wat binne-in hom was Jesus smeek om hulle nie terug te stuur na die onderwêreld toe nie.

32. Hulle vra toe of Hy hulle nie liewer in die groot trop varke wou instuur wat daar naby hulle op die berg gewei het nie. Jesus het ingestem.

33. Daar en dan het die duiwels uit die man padgegee en in die varke ingevaar. Toe breek daar chaos los. Die hele trop varke het skielik oor die kant van die berg gestorm en in die see geval. Daar het hulle almal verdrink.

34. Die mans wat die varke opgepas het, het hulle morsdood geskrik toe hulle sien wat gebeur. Hulle het dadelik teruggehardloop na hulle dorp toe. So ver as wat hulle gehardloop het, het hulle vir almal langs die pad vertel wat gebeur het. Kort voor lank was almal in rep en roer.

35. ’n Klomp mense het vinnig na die plek toe gekom waar Jesus die duiwels uit die man verjaag het. Hulle wou sien wat aan die gang was. Toe hulle daar aankom, sien hulle die man wat vol duiwels was aan Jesus se voete sit. Hy het klere aangehad en rustig geluister na wat Jesus sê. Toe het die mense bang geword.

36. Terwyl hulle so staan en kyk, het diegene wat gesien het wat gebeur opgewonde vir hulle vertel hoe Jesus die duiwels uit die man verdryf het.

37. Die mense van Gerasa het toe vir Jesus gevra om liewer pad te gee. Hulle was baie bang en het nie kans gesien dat nog sulke dinge daar by hulle gebeur nie. Jesus het toe in die boot geklim en teruggegaan na die oorkant toe.

38. Net voordat Jesus vertrek het, het die man uit wie Hy die duiwels verdryf het Hom gevra of hy nie by Hom kon bly nie. Jesus het gesê:

39. “Gaan terug na jou eie mense toe en vertel hulle watter wonderlike dinge God vir jou gedoen het.” Daarna het die man vir almal in sy dorp gaan vertel watter wonderlike dinge Jesus vir hom gedoen het.

40. Toe Jesus weer in Galilea aankom, het ’n skare mense Hom ingewag. Hulle was baie bly om Hom te sien.

Lees volledige hoofstuk Lukas 8