Ou Testament

Nuwe Testament

Lukas 6:14-33 Die Boodskap (DB)

14. Simon (Jesus het hom Petrus genoem), Andreas, Petrus se broer, Jakobus, Johannes, Filippus, Bartolomeus,

15. Matteus, Tomas, Jakobus, die seun van Alfeus, Simon (die mense het hom “ywerige Simon” genoem),

16. Judas, die seun van Jakobus, en Judas Iskariot (hy het Jesus later verraai).

17. Toe Jesus saam met hulle van die berg af kom, het Hy daar onder op die oop vlakte gaan staan. Baie van sy volgelinge en ’n hele klomp ander mense het daar na Hom toe gestroom. Van oor die hele Judea en Jerusalem, selfs van die kusgebied van Tirus en Sidon af, het mense in ’n groot massa na Jesus toe gekom.

18. Hulle wou Hom hoor preek en ook van hulle siektes genees word. Jesus het dit toe gedoen. Mense wat deur bose geeste beset is, is deur Hom bevry.

19. Almal het probeer om aan Jesus te raak. Hy was so vol krag dat Hy almal wat siek was, gesond gemaak het.

20. Toe kyk Jesus na sy volgelinge en sê vir hulle: “Julle is gelukkig as julle nou arm is. God sal dan vir julle ’n plek gee in sy nuwe wêreld.

21. “Julle is gelukkig as julle nou honger is. God sal sorg dat julle genoeg kos het om te eet in sy nuwe wêreld.“Julle is gelukkig as julle nou hartseer is. God sal sorg dat julle in sy nuwe wêreld lag en feesvier.

22. “Julle is gelukkig as ander mense julle haat, julle verstoot en julle sleg behandel. As hulle julle beledig en julle goeie naam onder hulle voete vertrap omdat julle my volgelinge is, moet julle baie bly wees.

23. Spring dan op en dans rond van vreugde, want daar wag ’n groot beloning op julle in God se nuwe wêreld. Wanneer mense julle slegsê, is julle in baie goeie geselskap: God se boodskappers is nog altyd so behandel.

24. “Vir al julle rykes wat net agter geld aanhardloop, lê daar groot probleme voor. Julle het julle beloning klaar ontvang. God skuld julle niks meer nie.

25. “Daar wag groot probleme op julle wat julle nou vol eet. In God se nuwe wêreld sal daar nie vir julle plek wees nie. Julle sal buite staan en honger ly.

26. “Daar wag groot probleme op julle wat dink dat die lewe een groot gefuif is. Wanneer God se nuwe wêreld aanbreek, sal julle verskriklik huil, want julle sal moet buite bly.“Daar wag groot probleme op julle wanneer mense heeltyd net mooi dinge oor julle moet sê. Onthou: in die ou dae het die mense ook mooi dinge oor al die vals boodskappers van die Here te sê gehad.”

27. “Kom Ek sê nou vir julle hoe Ek wil hê julle moet leef. Julle moet julle vyande liefhê. Wees goed vir almal wat julle haat. Moenie hulle sleg behandel nie.

28. “Spreek die Here se seën uit oor elkeen wat julle vloek. Moenie iets leliks terugsê nie. Bid vir almal wat julle beledig.

29. “As iemand jou deur jou gesig klap om jou te beledig, moenie terugslaan nie. Nee, sê vir hom om jou sommer nog ’n keer op jou ander wang te klap.“As iemand jou klere wil vat, skenk dan nog ’n ekstra stel van jou beste klere aan hom.

30. “As iemand iets van jou wil hê, gee dit. Wanneer iemand iets van jou gevat het, moenie dit later gaan terugvra nie.

31. “As daar een reël is waarvolgens julle moet lewe, is dit die volgende: vra julle af hoe julle wil hê ander mense teenoor julle moet optree. Spring hulle dan voor: gaan tree eerste so teenoor hulle op.

32. “As julle net daardie mense liefhet met wie julle goed oor die weg kom en wat lief is vir julle, moet julle nie verwag om ’n medalje vir goeie diens by God daarvoor te kry nie. Almal doen dit tog, ook die slegte mense wat hulle nie aan God steur nie. En as julle net goeie dinge doen vir dié wat goeie dinge vir julle doen, het julle nog niks besonders gedoen nie. Selfs slegte mense doen dit ook.

33. As julle ook net bereid is om iets te leen aan mense wat dit later aan julle sal teruggee, het julle nog niks buitengewoons gedoen nie. Sondaars doen dit ook.

Lees volledige hoofstuk Lukas 6