Ou Testament

Nuwe Testament

Lukas 3:13-21 Die Boodskap (DB)

13. “Moenie meer belasting uit die mense wurg as wat hulle volgens die wet moet betaal nie. Wees eerlik,” was sy antwoord aan hulle.

14. ’n Groep soldate het ook ’n vraag vir Johannes gehad: “En ons? Wat moet ons doen om gered te word?”Johannes het vir hulle gesê: “Moenie julle mag misbruik nie. Moenie mense met geweld intimideer nie. En moenie mense afpers om geld uit hulle te probeer kry nie. Wees tevrede met julle betaling.”

15. Johannes se woorde het die mense aangegryp. Oral het mense onder mekaar begin vra: “Is hy nie dalk die Messias nie?”

16. Maar hy het gou ’n einde aan hierdie praatjies gemaak. Hy het vir die skare gesê: “Ek doop julle nou hier in die rivier met water. Maar ’n baie belangrike Man is op pad na julle toe. Hy is so belangrik dat ek nie eens werd is om soos ’n slaaf sy skoenveters los te maak nie. Weet julle, Hy sal nie water gebruik om julle mee te doop nie. Nee, Hy sal julle met die Heilige Gees doop. Hy sal ’n vuur in julle lewens aansteek wat julle lewens van binne af sal skoonmaak.

17. “Hierdie Man wat op pad is na julle toe gaan Israel van hoek tot kant skoonmaak. Hy gaan die koring van die kaf skei. Vir almal wat na Hom luister, sal Hy ’n plek gee in God se splinternuwe wêreld. Maar almal wat hulle nie aan God steur nie, sal Hy in die vuur van die hel gooi wat nooit ophou brand nie.”

18. Johannes het die mense aangespoor om te doen wat God vra. God se goeie nuus het dag na dag oor sy lippe weerklink.

19. Op ’n dag het Johannes vir Herodes, die heerser van Galilea, in die openbaar gekritiseer omdat hy sy broer Filippus se vrou, Herodias, afgevat het. Ook ’n hele rits ander sondes van Herodes is deur Johannes veroordeel. Herodes was woedend hieroor.

20. Hy het Johannes laat arresteer en hom in die tronk opgesluit.

21. Onder al die mense wat na Johannes toe gekom het om gedoop te word, was daar ’n baie belangrike Man: Jesus. Nadat Johannes Hom klaar gedoop het, het Jesus tot God gebid. Terwyl Hy nog besig was om te bid, het die hemel skielik oopgegaan.

Lees volledige hoofstuk Lukas 3