Ou Testament

Nuwe Testament

Lukas 3:1-15 Die Boodskap (DB)

1. In die vyftiende jaar van die regering van keiser Tiberius het die volgende persone oor Palestina regeer: Pontius Pilatus: hy was die goewerneur van Judea. Herodes Antipas: hy was die heerser oor Galilea. Filippus, die broer van Herodes: hy was die heerser oor Iturea en Tragonitis. Lisanias: hy het oor Abilene regeer.

2. In daardie tyd, toe Annas en Kajafas die hoëpriesters was, het God vir Johannes, die seun van Sagaria, in die woestyn gaan roep om met sy werk te begin.

3. Johannes het toe in die gebied rondom die Jordaanrivier begin preek. Hy het vir almal wat na hom toe gekom het, gesê dat hy mense doop wat nie langer in sonde wou leef nie. Hy het ook gesê dat God almal vergewe wat hulle sondige lewe die rug toekeer.

4. Johannes het presies gedoen wat die profeet Jesaja geskryf het:“Iemand roep hard in die woestyn: ‘Die Here is op pad! Sorg dat die pad waarop Hy moet loop gelyk en reguit is.

5. Vul elke slaggat in die pad op. Kry elke bult en opdraande uit sy pad uit. Verwyder al die ompaaie. Sorg dat al die grondpaaie geteer is.

6. Dan sal almal God se verlossing kan sien.’”

7. ’n Groot skare het na Johannes toe gestroom om gedoop te word. Kort voor lank was dit ’n hele nuwe mode. Hy het egter dwarsdeur al die skynheiliges gesien en vir hulle gesê: “Julle klomp skynheiliges. Dink julle dat julle so maklik sal wegkom van God se oordeel?

8. Julle moet reg leef. Dra die regte vrugte. Moenie julleself bluf deur te sê: ‘Abraham is ons pa’ nie. Dit tel glad nie by God nie. As dit vir Hom saak gemaak het, kon Hy die klippe hier om julle in ’n oogwink in kinders van Abraham verander het.

9. “God se oordeel is voor die deur. Hy is op pad na julle toe soos ’n houtkapper met ’n groot byl in sy hand. Hy gaan elke boom wat nie goeie vrugte dra nie, uitkap en in die verskriklike vuur van die hel gooi.”

10. Die skare het toe benoud vir Johannes gevra: “Sê asseblief vir ons wat ons moet doen om in die regte verhouding met God te leef.”

11. Johannes sê toe: “As julle twee stelle klere het, gee dan een vir iemand wat niks het om aan te trek nie. Doen dieselfde met julle kos. Deel julle kos met mense wat niks het om te eet nie.”

12. ’n Klompie mense wat belasting ingevorder het, het ook na Johannes toe gekom om gedoop te word. Hulle vra toe vir hom: “Meneer, wat van ons? Wat moet ons doen om in die regte verhouding met God te kom?”

13. “Moenie meer belasting uit die mense wurg as wat hulle volgens die wet moet betaal nie. Wees eerlik,” was sy antwoord aan hulle.

14. ’n Groep soldate het ook ’n vraag vir Johannes gehad: “En ons? Wat moet ons doen om gered te word?”Johannes het vir hulle gesê: “Moenie julle mag misbruik nie. Moenie mense met geweld intimideer nie. En moenie mense afpers om geld uit hulle te probeer kry nie. Wees tevrede met julle betaling.”

15. Johannes se woorde het die mense aangegryp. Oral het mense onder mekaar begin vra: “Is hy nie dalk die Messias nie?”

Lees volledige hoofstuk Lukas 3