Ou Testament

Nuwe Testament

Lukas 24:39-53 Die Boodskap (DB)

39. Kyk mooi na my hande en na my voete. Sien julle die spykermerke? Dit is Ek, Jesus! Toe, kom vat aan My. Voel my arms en bene. Is julle nou oortuig dat Ek nie ’n spook is nie? ’n Mens kan tog nie aan ’n spook vat nie. Dit het nie vleis en bene nie.”

40. Terwyl Jesus praat, het Hy sy hande en sy voete vir die apostels gewys sodat hulle aan Hom kon vat en kon sien dat dit regtig Hy was. Party van hulle het rondgespring van blydskap terwyl ander Hom net oopmond aangestaar het.

41. Terwyl hulle so verbaas daar rondstaan en nie mooi weet of hulle moet glo wat hulle nou sien nie, sê Jesus vir hulle: “Het julle nie vir My iets om te eet nie?”

42. “Ja, natuurlik,” het hulle geantwoord en dadelik vir Hom gebakte vis voorgesit.

43. Hy het dit daar voor hulle oë opgeëet.

44. Daarna sê Jesus vir die apostels: “Onthou julle dat Ek vroeër vir julle gesê het dat alles wat die Bybel oor My sê binnekort waar sou word? Wel, elke uitspraak oor My in die wet van Moses, en ook in die profete en die psalms, het nou waar geword.”

45. Toe het Jesus gesorg dat hulle meteens verstaan wat die Bybel sê.

46. “Sien julle nou dat die Bybel sê dat die Messias moes kom ly en dat Hy op die derde dag weer uit die dood sou opstaan?

47. Wel, van nou af gaan julle hierdie goeie nuus wêreldwyd oorvertel; van hier in Jerusalem af tot aan die uithoeke van die wêreld. Julle moet vir ander mense sê om hulle sondes te laat staan en dat hulle hulle tot God moet bekeer. Sê vir hulle dat al hulle sondes vergewe word wanneer hulle in My glo.

48. Julle het alles wat met My gebeur het self aanskou. Gaan vertel dit aan ander mense.

49. “My Vader het ook nog ’n baie groot Geskenk vir julle. Ek gaan hierdie Geskenk binnekort na julle toe stuur. Wag nog net so ’n klein rukkie hier in Jerusalem. Een van die dae gaan julle met baie groot krag direk uit die hemel toegerus word.”

50. ’n Rukkie later het Jesus sy apostels na Betanië toe gevat. Daar het Hy sy hande oor hulle uitgestrek en God se seën oor hulle afgebid.

51. Terwyl Hy nog besig was om hulle te seën, het Hy na die hemel toe vertrek.

52. Die apostels het op hulle knieë neergeval en Jesus aanbid terwyl Hy van hulle af weggegaan het. Daarna het hulle na Jerusalem toe teruggestap.

53. Hulle was baie opgewonde oor alles wat hulle gesien en beleef het. In Jerusalem het hulle elke dag na die tempel toe gegaan om God te dien en te eer.

Lees volledige hoofstuk Lukas 24