Ou Testament

Nuwe Testament

Lukas 22:39-51 Die Boodskap (DB)

39. Toe die ete klaar was, het Jesus opgestaan en oudergewoonte weer na die Olyfberg toe gestap. So ook sy dissipels.

40. Daar aangekom, sê Hy vir hulle: “Julle moet ernstig bid dat julle nie in die versoeking beland en teen God sondig nie.”

41. Jesus het toe ’n ent van hulle af weggestap, omtrent so ver as wat ’n mens met ’n klip kan gooi.

42. Daar het Hy op sy knieë neergeval en begin bid: “My Vader, kan U nie asseblief u planne verander sodat Ek nie meer die pad wat vir My voorlê, hoef te loop nie? Is daar nie dalk ’n ander uitweg nie? Maar Ek probeer nie nou self allerhande planne maak nie. Maak U die planne! Ek val daarby in.”

43. Terwyl Jesus nog bid, het ’n engel daar na Hom toe gekom om Hom krag te gee vir alles wat op Hom gewag het.

44. Jesus was nou in ’n geweldige stryd gewikkel. Hy het so ernstig gebid dat Hy later papnat van die sweet was. Dit het soos bloeddruppels van Hom afgeloop en op die grond geval.

45. Toe Jesus klaar gebid het, het Hy opgestaan en teruggestap na sy dissipels toe. Hulle almal was vas aan die slaap. ’n Paar van hulle het ’n rukkie vantevore met trane in die oë aan die slaap geraak toe hulle sien hoe swaar Jesus kry.

46. Hy sê toe vir hulle: “Word wakker! Dis nie nou die tyd om te lê en slaap nie. Julle moet nou bid dat julle nie voor die sonde swig nie.”

47. Jesus se woorde was skaars koud of Judas, een van sy twaalf apostels, daag daar op met ’n groot skare mense kort op sy hakke. Hy stap toe tot by Jesus en soen Hom daar voor almal.

48. “Judas, is dit hoe jy nou die Seun van die mens uitverkoop? Verraai jy My met ’n soen, wat eintlik veronderstel is om te wys hoe lief jy My het?” het Jesus hom gevra.

49. Die ander dissipels was baie geskok toe hulle agterkom dat Judas sy verraaier is. “Here, sê net, dan baklei ons! Ons sal U beskerm,” sê hulle vir Jesus.

50. Voordat Hy kon antwoord, pluk een van die dissipels skielik ’n swaard uit en kap daarmee die regteroor van een van die hoëpriester se werkers af.

51. “Stop! Hou dadelik op!” het Jesus gou vir hom gesê. Toe raak Hy die werker se oor aan. Dit was dadelik gesond.

Lees volledige hoofstuk Lukas 22