Ou Testament

Nuwe Testament

Lukas 2:39-49 Die Boodskap (DB)

39. Nadat Josef en Maria alles gedoen het wat die wet van die Here van hulle verwag het, het hulle teruggegaan Galilea toe, na hulle tuisdorp, Nasaret.

40. Daar het Jesus sy kinderdae deurgebring. Hy het sterk geword na liggaam en na gees. God se goedheid was die hele tyd by Hom.

41. Elke jaar het Jesus se ouers Jerusalem toe gegaan om die paasfees te vier.

42. Toe Hy twaalf jaar oud was, het hulle oudergewoonte weer soontoe gegaan.

43. Toe die fees verby was, het hulle teruggekeer na Nasaret. Jesus het egter in die tempel agtergebly, maar sy ouers het dit nie agtergekom nie.

44. Hulle het gedink dat Hy by ander familielede en vriende was wat ook op pad terug was. Eers nadat hulle ’n dag lank op die pad was, het Jesus se pa en ma na Hom begin soek.

45. Maar hulle kon Hom nêrens tussen hulle familie en vriende kry nie. Uiteindelik moes hulle toe terugdraai Jerusalem toe om Hom daar te gaan soek.

46. Na ’n lang soektog van drie dae het Josef en Maria vir Jesus in die tempel opgespoor. Hy het daar tussen die skrifkenners gesit. Hy het aandagtig na hulle geluister en allerhande vrae aan hulle gevra.

47. Almal van hulle was verstom oor sy groot insig in die Bybel.

48. Toe Maria en Josef vir Jesus daar sien, was hulle baie omgekrap. Maria het dadelik vir Hom gesê: “Hoe kon jy so iets aan ons doen? Ons is al dood van bekommernis oor jou. Dae lank soek ons oral na jou!”

49. Maar Jesus het geantwoord: “Waarom het u na My gesoek? U weet mos dat Ek in die huis van my Vader moet wees.”

Lees volledige hoofstuk Lukas 2