Ou Testament

Nuwe Testament

Lukas 18:10-22 Die Boodskap (DB)

10. “Op ’n dag het twee mans daar na die tempel in Jerusalem toe gegaan om God te aanbid. Die een was ’n Fariseër en die ander een ’n belastinggaarder. (Hierdie belastinggaarders was bekend as tollenaars. Hulle het nie die godsdienstige wette gehoorsaam nie. Daarom is hulle as groot sondaars beskou.)

11. “Die Fariseër het toe begin bid: ‘God, ek sê vir U dankie dat ek nie ’n slegte mens is nie. Kyk net: ek steel nie ander mense se goed nie. Ek lieg en bedrieg nie. Ek slaap ook nie rond nie. Ja, en ek is ook nie so ’n groot sondaar soos hierdie tollenaar wat langs my staan nie.

12. “‘O ja, kyk net wat doen ek alles: ek vas twee keer elke week. Ek gee ook ’n tiende van elke sent wat ek verdien.’

13. “Die tollenaar het daar eenkant gaan staan. Hy het so skaam gekry oor al sy sondes dat hy nie eens wou opkyk nie. Hy het sy kop laat sak, met sy hand op sy bors geslaan en gesê: ‘God, ek is ’n sondaar. Help my! Wees my genadig!’”

14. Toe sê Jesus vir die mense wat na Hom luister: “Hierdie tollenaar se gebed is dadelik verhoor. God het sy lewe in ’n oogwink splinternuut gemaak. Maar die Fariseër het met leë hande daar weggestap. Hy het gedink hy lewe goed genoeg om ’n plek in die hemel te kry. Maar dit werk nie so nie. Almal wat te veel van hulleself dink om vir God te vra om hulle te red, sal nog baie spyt wees. Maar almal wat voor God kom buig en op Hom vertrou om hulle lewe splinternuut te maak, sal verhoog word.”

15. Kort daarna het ouers hulle klein kindertjies na Jesus toe gebring in die hoop dat Hy sy hande op hulle sou sit en vir hulle sou bid. Maar die dissipels het hulle weggejaag. Hulle wou nie hê dat die mense Jesus met sulke “onbelangrike” dinge lastig val nie.

16. Toe Jesus dit sien, het Hy egter dadelik vir sy dissipels gesê: “Wag! Wat vang julle aan? Moenie die kindertjies wegjaag nie. Laat hulle na My toe kom.

17. God se nuwe wêreld is juis vir almal soos hulle bedoel. By Hom is daar plek vir almal wat soos klein kindertjies van hulle hemelse Vader afhanklik is. Weet julle, as julle nie verander en soos kinders word nie, sal julle nooit die binnekant van God se nuwe wêreld sien nie.”

18. Op ’n dag het ’n baie belangrike man vir Jesus gesê: “Goeie Leermeester, sê my, wat moet ek doen sodat ek vir altyd in God se wêreld kan bly?”

19. “Vir wat kom spreek jy My hier voor almal aan as ‘goeie Leermeester’?” het Jesus vinnig gereageer. “Jy weet mos dat daar net Een is wat regtig goed is: God. Maar nou ja, jy moet God se voorskrifte gehoorsaam.

20. En jy ken tog al God se voorskrifte: jy mag nie met iemand buite jou huwelik ’n seksuele verhouding hê nie, jy mag nie moord pleeg nie, jy mag nie steel nie, jy mag nie leuens vertel nie, en jy moet respek hê vir jou pa en ma.”

21. “Ag wat, ek doen al daardie dinge van kleins af,” sê die man.

22. Daarop antwoord Jesus: “Wel, dan is daar nog net een klein dingetjie wat jy moet doen. Gaan verkoop al jou besittings. Gee dan al die geld vir die armes. Laat staan alles waarmee jy besig is en word een van my volgelinge. As jy dit doen, het jy vir jou ’n kosbare skat in die hemel bymekaargemaak. Dan sal jy definitief ’n plek in God se nuwe wêreld kry.”

Lees volledige hoofstuk Lukas 18