Ou Testament

Nuwe Testament

Lukas 16:1-7 Die Boodskap (DB)

1. Daarna het Jesus ook vir sy dissipels die volgende verhaal vertel: “Eendag was daar ’n ryk man wat ’n bestuurder aangestel het om sy besigheid te behartig. Na ’n ruk het die man agtergekom dat die bestuurder al sy geld uitmors.

2. Hy stuur toe ’n boodskap aan sy bestuurder: ‘Ek is glad nie tevrede met die manier waarop jy my sake bestuur nie. Kom sien my dadelik. Begin ook maar solank uitkyk vir ’n ander werk.’

3. “Die bestuurder het besef hy is in die moeilikheid. Hy dink toe by homself: ‘Wat doen ek nou? Ek gaan definitief in die pad gesteek word. En werk is deesdae maar skaars. Ek sien regtig nie kans om in iemand se tuin te gaan werk of om met ’n bordjie om my nek in die straat te staan en geld bedel nie.’

4. “Die man kry toe ’n plan: ‘Ja, nou weet ek! Ek gaan ten minste sorg dat ek op goeie voet bly met al die sakemanne wat nog aan my baas geld skuld. Dalk het een van hulle vir my ’n werk.’

5. “Daar en dan het die bestuurder toe almal wat aan sy baas geld skuld, laat roep. Toe die eerste een daar opdaag, sê hy vir hom: ‘Ek sien jy betaal nie jou skuld nie. Sê my, hoeveel skuld jy aan my baas?’

6. “‘Ek het 100 vate olie by hom op skuld geneem,’ antwoord die man.“Toe sê die bestuurder: ‘Wel, ek verminder jou skuld nou dadelik met die helfte na net 50 vate olie.’

7. “Die bestuurder roep toe die volgende persoon in en vra vir hom: ‘Hoeveel skuld jy aan my baas?’“‘Ek het ’n groot klomp koring by hom op skuld gekoop. Ek skuld hom 100 bale koring.’“‘Jy is baie gelukkig,’ sê die bestuurder toe. ‘Want ek verminder jou skuld van vandag na 80 bale koring. Dis al wat jy nou moet terugbetaal.’

Lees volledige hoofstuk Lukas 16