Ou Testament

Nuwe Testament

Lukas 12:39-56 Die Boodskap (DB)

39. “Nog ’n voorbeeld: As iemand hoor dat ’n dief beplan om drie-uur in die nag by hom te kom inbreek, sal hy mos gereed wees, nie waar nie? Hy sal die dief met niks laat wegkom nie.

40. Net so moet julle ook sorg dat julle reg is, want julle weet nie wanneer die Seun van die mens kom nie. Al wat Ek vir julle kan sê, is dat dit op ’n tydstip sal wees dat julle dit die minste verwag.”

41. Petrus vra toe vir Jesus: “Met wie praat U nou eintlik? Net met ons dissipels, of ook met al die ander mense?”

42. Jesus het Petrus met nog ’n verhaal geantwoord: “Dink ’n bietjie: Watter soort werker sal die eienaar van ’n fabriek die graagste aanstel om elke maand die ander werkers se lone uit te betaal? Definitief die persoon wat betroubaar is en wat altyd hard werk, of die eienaar nou daar is of nie.

43. So ’n werker sal goed beloon word as die eienaar op ’n dag kom inspeksie doen.

44. Uiteindelik sal hy die bestuurder oor die hele fabriek word.

45. Maar as daardie werker vir homself sou sê: ‘Kyk, die baas is nie hier nie. Nou maak ek wat ek wil,’ wag daar groot probleme op hom. Kort voor lank begin hy dan geld steel en met die ander werkers sukkel. Hy begin ook in werkstyd drink en partytjie hou.

46. Vir hierdie werker wag daar ’n groot verrassing. Op ’n goeie dag, as hy nog so dronk daar rondsit en die ander pla, sal die eienaar onverwags by die fabriek instap. Dit sal natuurlik gebeur wanneer hy dit die minste verwag. Maar dan gaan hy bitter swaar gestraf word. Daardie werker gaan net mooi alles verloor wat hy gehad het.

47. “Die werker wat weet wat sy eienaar van hom verwag, maar wat hom nie daaraan steur nie en doen wat hy wil, sal bitter swaarkry op die dag dat sy eienaar terugkom.

48. Aan die ander kant, daardie werker wat nie mooi geweet het wat sy eienaar van hom verwag nie, maar wat drooggemaak het, sal nie so swaar soos die eerste werker gestraf word nie. “So gaan dit ook in God se wêreld. Hoe meer verantwoordelikhede daar aan mense toevertrou word, hoe groter plig rus daar op hulle skouers om te doen wat God vra. Op die laaste dag sal daar van hulle groter rekenskap gevra word as van ander.”

49. “My werk is om alles hier op aarde van hoek tot kant te kom verander. En hoe wens Ek nie dat dit al begin nie!

50. Net soos ’n reusevuur alles aan die brand steek, kom steek Ek die hele wêreld aan die brand. Daar lê egter eers ’n groot ‘vuurdoop’ vir My voor. Eers moet Ek baie swaarkry. Dit is nie ’n lekker vooruitsig nie.

51. “Dink julle almal gaan nou skielik in vrede met mekaar leef omdat Ek hier is? Nee, inteendeel. Van nou af gaan mense eers baklei.

52. Selfs in dieselfde huisgesin sal mense oor My verdeeld wees.

53. ’n Ma en haar seun sal byvoorbeeld in My glo, terwyl die pa en sy dogters weier om My te dien. Pa’s en seuns sal van nou af mekaar haat oor My. Ma’s en hulle dogters sal haaks wees om dieselfde rede; so ook ganse families. Ek gaan nog maak dat baie mense niks met mekaar te doen wil hê nie.”

54. Jesus sê toe vir die mense wat na Hom luister: “Julle is sulke goeie weervoorspellers! As julle ’n wolk daar uit die weste sien aankom, sê julle: ‘Dit kom reën.’ En dan gebeur dit ook.

55. En wanneer die suidewind begin waai, sê julle: ‘Nou gaan ons uitbraai van die hitte.’ En dan gebeur dit ook.

56. “Ek verstaan julle spul skynheiliges glad nie. Julle is sulke goeie weervoorspellers. Julle kan presies sê wanneer dit gaan reën en wanneer dit warm gaan wees, maar julle kan glad nie die tyd reg lees nie.

Lees volledige hoofstuk Lukas 12