Ou Testament

Nuwe Testament

Lukas 10:34-41 Die Boodskap (DB)

34. Hy het dadelik die medisyne uitgehaal wat hy by hom in sy tas gehad het en die man se wonde skoongemaak. Hy het hom toe verbind en versigtig op sy donkie getel. Die Samaritaan is toe na die naaste herberg toe. Daar het hy die man in die bed gaan sit en hom versorg.

35. “Die volgende oggend moes die Samaritaan verder reis. Hy sê toe vir die eienaar van die herberg: ‘Hier is geld om vir daardie siek man se verblyf te betaal. Sorg asseblief goed vir hom. As die geld te min is, sal ek later die res kom betaal. Ek kom binnekort weer hier oorslaap wanneer ek van my reis af terugkeer.’

36. “Sê My, wie van hierdie drie mans was ’n medemens vir daardie arme man wat onder die rowers deurgeloop het? Wat dink jy?” het Jesus toe vir die kenner van die wet gevra.

37. Hy antwoord toe: “Ja, wel, seker daardie een wat goedgedoen het aan die man wat aangerand is.”“Mooi so! Gaan doen jy nou presies dieselfde as hy. Word ’n medemens vir elkeen met wie jy elke dag te doen het, maak nie saak wie of wat hulle is nie,” het Jesus geantwoord.

38. Daarna het Jesus verder gereis Jerusalem toe. Langs die pad het Hy in ’n dorp oorgebly by ’n vrou met die naam Maria.

39. Sy het ook ’n suster gehad; haar naam was Marta. Toe Jesus daar in hulle huis kom, het Hy oudergewoonte met sy volgelinge oor God se nuwe wêreld gepraat. Maria, wat haar suster gehelp het om die kos reg te kry, het dit agtergekom. Sy het toe tussen hulle gaan sit.

40. Marta het intussen agtergekom dat Maria nie meer in die kombuis help nie. Toe sy haar suster daar by Jesus sien sit, was sy op die plek kwaad. Sy het na Jesus toe gestap en vir Hom gesê: “Here, hoe kan U so iets toelaat? Pla dit U nie dat my suster my alleen laat kos maak en die gaste bedien nie?”

41. Maar die Here het Marta geantwoord: “My liewe Marta, jy hardloop aanmekaar rond. Jy bekommer jou of alles gereed is. Laat staan dit! Dis mos nie waaroor die lewe gaan nie. Daar is net een ding wat regtig saak maak: om God te ken. Maria weet dit. Daarom het sy die regte keuse gemaak. Niemand sal dit ooit van haar kan wegvat nie.”

Lees volledige hoofstuk Lukas 10