Ou Testament

Nuwe Testament

Johannes 7:2-17 Die Boodskap (DB)

2. Dit was Oktober en die fees van die tente was om die draai. Die Jode het elke jaar hierdie fees gehou. Dit het hulle herinner aan die tente waarin hulle voorouers moes bly toe hulle uit Egipte weg is. Terselfdertyd het hulle ook sommer vir die Here dankie gesê vir die goeie oeste. Dit was nou regtig ’n fees waarin die Jode se vrolikheid geen perke geken het nie. ’n Hele sewe dae lank het hulle fees gehou.

3. Jesus se broers sê toe vir Hom: “Luister, vir wat sit jy hier? Gaan Judea toe en wys vir jou volgelinge wat jy kan doen. Wat van ’n paar wonders daar?

4. As jy aandag wil trek, help dit nie jy kruip hier weg nie. As jy hierdie dinge dan nou moet doen, gaan doen dit ten minste daar waar al die mense jou kan sien.”

5. Sy broers het so met Hom gepraat, want hulle kon nog nie aanvaar dat Hy werklik die Seun van God is nie.

6. Jesus antwoord toe: “Moenie vir My sê wat Ek moet doen nie. Ek weet wanneer die tyd vir My ryp is om dinge te doen. Doen julle maar wat julle wil en los My uit. Julle hoef nie bekommerd te wees oor wanneer sekere dinge met julle gaan gebeur nie.

7. Sondige mense word mos nie vir julle kwaad soos hulle vir My kwaad word nie. Ek sê mos reguit vir hulle dat hulle op die duiwel se pad is en daarvan hou hulle niks.

8. Gaan julle maar. Gaan geniet julle fees. Ek bly net hier. Wanneer die tyd ryp is, sal Ek doen wat Ek moet doen.”

9. Jesus het net daar in Galilea gebly.

10. Jesus se broers is toe weg fees toe. So stil-stil is Jesus op sy eie ook soontoe, want Hy wou nie aandag trek nie.

11. Toe die fees begin, het die Jode begin rondvra: “Waar is daardie vent?”

12. Oral onder die mense is daar oor Jesus gepraat. “Ag nee wat,” het party gesê. “Hy is sommer ’n kansvatter!”“Hoe kan julle so sê?” het ander teruggekap. “Hy is ’n goeie en eerlike mens.”

13. Niemand het dit egter gewaag om hierdie dinge baie hard te sê nie. Hulle was te bang vir die Joodse leiers.

14. Die fees was omtrent al halfpad toe Jesus by die tempel opdaag. Daar het Hy met mense oor godsdiens en God begin praat.

15. Die Jode het nie mooi geweet wat om daarvan te dink nie. “Hierdie man het tog nêrens gestudeer nie,” het hulle vir mekaar gesê. “Hoe is dit moontlik dat hy so baie weet?”

16. Jesus sê toe: “Ek het nie self hierdie dinge opgemaak nie. Wat Ek hierdie mense leer, kom direk van God af. Hy het My gestuur om dit te kom doen.

17. Die mense wat regtig ernstig is om aan God gehoorsaam te wees, sal dadelik hoor dat wat Ek sê van God af kom.

Lees volledige hoofstuk Johannes 7