Ou Testament

Nuwe Testament

Johannes 7:12-20 Die Boodskap (DB)

12. Oral onder die mense is daar oor Jesus gepraat. “Ag nee wat,” het party gesê. “Hy is sommer ’n kansvatter!”“Hoe kan julle so sê?” het ander teruggekap. “Hy is ’n goeie en eerlike mens.”

13. Niemand het dit egter gewaag om hierdie dinge baie hard te sê nie. Hulle was te bang vir die Joodse leiers.

14. Die fees was omtrent al halfpad toe Jesus by die tempel opdaag. Daar het Hy met mense oor godsdiens en God begin praat.

15. Die Jode het nie mooi geweet wat om daarvan te dink nie. “Hierdie man het tog nêrens gestudeer nie,” het hulle vir mekaar gesê. “Hoe is dit moontlik dat hy so baie weet?”

16. Jesus sê toe: “Ek het nie self hierdie dinge opgemaak nie. Wat Ek hierdie mense leer, kom direk van God af. Hy het My gestuur om dit te kom doen.

17. Die mense wat regtig ernstig is om aan God gehoorsaam te wees, sal dadelik hoor dat wat Ek sê van God af kom.

18. Iemand wat sommer net ’n klomp idees uitdink en rondvertel, doen dit mos sodat mense kan sê: ‘O, kyk hoe slim is hy,’ nie waar nie? Dit doen Ek nie. Nee, Ek wil hê dat julle eerder moet raaksien hoe groot God werklik is. Kyk na Hom en nie na My nie. Dit moet mos al genoeg wees om julle van my goeie bedoelings te oortuig, asook daarvan dat Ek die waarheid praat.

19. Het Moses nie vir julle die wet gegee nie? Dit is mos die wil van God. Maar julle steur julle nie daaraan nie. Julle breek die wet elke dag. Nou wil julle My doodmaak omdat Ek kamma die wet gebreek het toe Ek op die sabbat iemand gesond gemaak het. Verbeel jou!”

20. Dit het die mense omgekrap. “Jy is van jou sinne beroof, man!” snou hulle Hom toe. “Wie wil jou nou skielik doodmaak?”

Lees volledige hoofstuk Johannes 7