Ou Testament

Nuwe Testament

Johannes 6:12-28 Die Boodskap (DB)

12. Toe die mense genoeg gehad het om te eet, sê Jesus vir sy volgelinge: “Ek sien daar het heelwat kos oorgebly. Gaan maak dit bymekaar sodat niks gemors word nie.”

13. Die dissipels het dit gedoen en twaalf mandjies nodig gehad om die brood wat oorgebly het in te sit. Dit alles het met die vyf broodjies van die seuntjie begin.

14. Die mense het dit gesit en bekyk. Hulle het besef dat hulle hier ’n teken gesien het van hoe spesiaal Jesus regtig is. Hulle sê toe vir mekaar: “Hy is definitief daardie Boodskapper van God, julle weet mos, daardie spesiale Een wat na die wêreld toe moes kom.”

15. Die mense wou Jesus toe met alle geweld koning maak. Jesus het dit egter besef en toe verder teen die berg uitgeklim, net Hy alleen.

16. Teen die aand het sy dissipels weer teruggestap see toe. Dit was al donker en steeds was daar geen teken van Jesus nie. Hulle het toe maar

17. in ’n skuit geklim en na Kapernaum toe begin vaar. Kapernaum was aan die oorkant van die meer. Daar kom toe ’n sterk wind op.

18. Die water het baie onstuimig geword. Die dissipels het bly roei.

19. Na so vyf of ses kilometer sien hulle skielik vir Jesus. Hy het sommer daar naby die skuit op die water geloop. Hulle het hulle wit geskrik.

20. Jesus kalmeer hulle toe: “Toemaar, dit is net Ek. Moenie bang wees nie.”

21. Hulle help Hom toe in die skuit in. Dit was nie ver van die plek af waar hulle wou vasmeer nie.

22. Toe dit die volgende dag lig word, het die mense besef dat daar net een skuitjie weggevaar het en Jesus was beslis nie daarin nie. Sy dissipels is alleen, sonder Hom, daar weg.

23. Intussen het daar ook ander skuitjies uit Tiberias daar aangekom.

24. Toe die mense begin besef dat Jesus net so min soos sy dissipels nog in daardie omgewing was, stroom hulle na die skuitjies toe. Hulle sit toe af in die rigting van Kapernaum, op soek na Jesus.

25. Daar kry hulle Hom toe ook. Hulle vra Hom toe: “Meneer, wanneer het u hier aangekom?”

26. Jesus sê toe: “Hoekom doen julle al die moeite om My so te volg? Dit is definitief nie omdat julle God in my dade raakgesien het nie. Nee, julle doen dit maar net omdat Ek vir julle kos gegee en julle lekker geëet het. Ai, alles net vir ’n ete!

27. Moenie al julle energie verspil om gewone kos in die hande te probeer kry nie. Gewone kos eet julle vandag en môre is julle weer van voor af honger. Doen liewer moeite vir daardie kos wat julle vir altyd aan die lewe sal hou. As julle dit eet, sal julle nooit weer honger word nie. Die Seun van die mens sal daardie kos vir julle kan gee. God die Vader self staan mos agter alles wat sy Seun doen.”

28. Hulle vra Hom toe: “Help ons: Wat moet ons doen om God tevrede te stel?”

Lees volledige hoofstuk Johannes 6