Ou Testament

Nuwe Testament

Johannes 5:19-34 Die Boodskap (DB)

19. Jesus kap toe terug: “Julle kan My sowaar maar glo; die Seun kan niks uit sy eie sonder sy Vader doen nie. Soos ’n goeie Seun kyk Hy mooi wat sy Vader doen. Wat Hy sy Vader sien doen, doen Hy presies net so.

20. Die Vader het die Seun lief. Daarom hou Hy niks vir Hom geheim nie, maar wys Hom alles wat Hy doen. Julle dink die lam man wat Ek gesond gemaak het, was iets besonders. Julle het eintlik nog niks gesien nie. Die Vader sal die Seun wys hoe om groter dinge as dit te doen. Julle sal julle oë nie kan glo nie.

21. Soos die Vader dooie mense weer lewendig maak, so sal die Seun dit ook doen waar en wanneer Hy wil. En dit is nie al nie.

22. Die Vader gaan self nie meer die Regter wees wat die oordeel oor mense gaan uitspreek nie. Hy het aan sy Seun die reg gegee om dit te doen.

23. Daarom sal mense net soveel eer aan die Seun bewys as aan die Vader. Daar is egter ook ’n ander kant van die saak: wie nie die Seun respekteer nie, respekteer ook nie die Vader nie. Die Vader het immers die Seun gestuur om Hom te kom verteenwoordig.

24. “Sowaar, die persoon wat luister na wat Ek sê en daarom glo in Hom wat My gestuur het, het nou reeds die lewe saam met God wat nooit einde sal kry nie. Dié persoon hoef nie bang te wees dat hy met die finale oordeel weer voor die regterstoel van God sal hoef te verskyn nie. Die besluit oor hom is klaar geneem. Hy het mos nou reeds uit die kloue van die geestelike dood oorgegaan in die wonderlike lewe wat God gee.

25. Luister nou mooi. Die oomblik waarop almal gewag het, is hier. Geestelik dooie mense sal die boodskap van die Seun van God hoor. Wie na hierdie boodskap luister en dit aanvaar, sal vir altyd saam met God lewe.

26. Hierdie lewe is natuurlik die tipe lewe wat die Vader self het. Dit is ook die lewe wat Hy aan sy Seun gegee het.

27. Daarmee saam het die Vader ook die Seun gevra om die Regter by die finale oordeel te wees.

28. Julle moenie verbaas wees hieroor nie. Daar kom ’n dag wanneer al die mense wat reeds begrawe is, sy stem sal hoor.

29. Hulle sal uit die grafte uitkom. Die mense wat voorbeeldig en goed gelewe het, sal opstaan om vir ewig saam met God te leef. Aan die ander kant sal daardie mense wat hulle met verkeerde dinge besig gehou het, opstaan om te hoor dat hulle vir ewig en altyd verdoem is.”

30. “Al hierdie dinge doen Ek egter nie op my eie nie. Ek het mooi geluister na wat die Vader sê. As Ek nou besluite oor mense neem, doen Ek dit soos my Vader dit sou doen. Daarom is Ek ook seker dat my besluite altyd reg en regverdig is. Mense kan nie sê dat dit sommer my eie idees is nie, want Ek wil nie my eie wil op mense afdwing nie.

31. Nee, die besluite wat Ek neem, kom van God af; Hy het My gestuur om te kom sê presies wat Hy wil hê.

32. “In ’n hof sou mense miskien kon sê dat hulle My nie sal glo as net Ek alleen al hierdie dinge sê nie. Ek is egter nie die enigste getuie in hierdie saak nie. Daar is ook ander en hulle praat die heilige waarheid.

33. “Julle onthou mos nog die mense wat julle na Johannes die Doper toe gestuur het? Alles wat hy vir hulle oor My gesê het, is waar. Glo dit maar.

34. “Ek het egter nie mense se getuienis nodig nie. Ek hoef Johannes nie eens as getuie te roep nie, want Ek het beter getuies as hy. Ek herinner julle egter net aan wat hy gesê het sodat dit julle kan help op julle pad na redding.

Lees volledige hoofstuk Johannes 5