Ou Testament

Nuwe Testament

Johannes 16:22-32 Die Boodskap (DB)

22. Net so is dit met julle. Julle voel nou baie hartseer omdat Ek weggaan. Maar na ’n rukkie sal julle My weer sien.

23. Dan sal daar geen keer wees aan julle blydskap nie. Niemand sal julle meer hartseer kan maak nie. Wanneer dit eers gebeur, sal van al julle vrae nie een meer oorbly nie. Luister mooi. Julle sal ander dinge begin vra. Wat julle ook al van my Vader vra om my saak in hierdie wêreld te bevorder, sal God vir julle gee.

24. Tot nou toe het julle nog nooit so iets gevra nie. Neem vrymoedigheid en vra! Julle blydskap sal geen einde hê nie.”

25. “Ek gebruik heelwat beelde om alles te verduidelik. Oor ’n ruk sal dit nie eens meer nodig wees nie. Ek sal sommer reguit vir julle kan sê wat Ek bedoel wanneer Ek oor my Vader praat.

26. Julle sal dan ook reguit met die Vader kan praat omdat julle my vriende is. Ek sal dan nie meer nodig hê om allerhande dinge vir julle by die Vader te vra nie.

27. Hy voel oor julle net soos Ek oor julle voel. Hy het julle lief. Hy voel so oor julle omdat julle my goeie vriende is. Julle het aanvaar dat Ek van God af kom. Dit is wat gebeur het:

28. Ek het van my Vader af na julle mense toe gekom. Nou gaan Ek van julle af terug na my Vader toe.”

29. “Nou praat U reguit, op die man af, sonder allerhande beelde,” sê sy volgelinge.

30. “Ons besef al hoe meer hoeveel U weet. Ja-nee, wat daar te wete is, weet U. U hoef nie by ander mense te gaan aanklop nie. Watter beter bewys is daar dat U regtig van God af kom? Ons is in alle geval seker daarvan.”

31. Jesus sê toe: “Is julle regtig so seker van julle saak?

32. Oppas, die tyd kom nou vir My nader - wag, dit is eintlik nou al hier. Julle sal van skrik alles los en weghardloop. Sonder om links of regs te kyk sal julle net maak dat julle by die huis kom. En die ergste is, julle gaan My net so alleen los. Maar heeltemal alleen sal Ek nooit wees nie. My Vader is en bly altyd by My.

Lees volledige hoofstuk Johannes 16