hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21

Ou Testament

Nuwe Testament

Johannes 16 Die Boodskap (DB)

Byt vas, al loop dinge verkeerd

1. “Ek vertel hierdie dinge vir julle sodat julle reg kan wees vir die moeilike tye wat kom.

2. Praat van gevaarlike tye - die Jode sal julle uit hulle byeenkomste jaag en julle verbied om weer daar te kom. En dit is nie al nie! In ’n stadium sal hulle julle selfs doodmaak en dan mekaar gelukwens met die groot guns wat hulle vir God gedoen het.

3. Hulle sal hulle met sulke dinge besig hou omdat hulle nie weet wie Ek is nie en nog minder wie my Vader is.

4. Wees gewaarsku. Moenie julle onkant laat vang wanneer hierdie dinge gebeur nie, want julle weet nou daarvan. Kry julle reg. Ek vertel julle nou eers daarvan, want dit was nie nodig om dit vroeër vir julle te sê nie. Ek was mos die hele tyd by julle.”

Die Heilige Gees sorg vir die gelowiges

5. “Maar Ek is op pad weg, na my Vader toe wat My gestuur het. En sowaar, nie een van julle vra eens: ‘Waarheen gaan U?’ nie.

6. “Dit lyk My julle is te hartseer oor alles wat Ek vir julle gesê het.

7. Moenie hartseer wees nie. Glo My, dit gaan glad nie so sleg wees wanneer Ek weggaan nie. Inteendeel, julle gaan daarby baat vind. Dink net, as Ek nie teruggaan nie, sal die spesiale Helper nie na julle toe kom nie. As Ek egter weggaan, sal Ek Hom na julle toe stuur.

8. En wanneer Hy kom, sal Hy sorg dat die wêreld drie dinge waterpas in die oë moet kyk. Dit het te doen met hulle sonde en God se oordeel oor hulle.

9. “In die eerste plek sal hulle nie daarvan kan loskom dat hulle sonde gedoen het nie. Hulle wou mos nie in My glo nie.

10. “In die tweede plek sal hulle besef dat die reg aan my kant is. Ek gaan na my Vader toe. Julle sal My nie meer met die blote oog kan sien nie.

11. “In die derde plek sal niemand die finale oordeel van God kan keer nie. Die duiwel, wat hier op aarde probeer baasspeel, het hom al klaar in God se straf vasgeloop.

12. “O, Ek het soveel dinge om nog vir julle te sê, maar dit is nie nou die regte tyd nie. Julle is nog nie ryp daarvoor nie.

13. Maar as die Heilige Gees eers hier is, sal Hy julle hand vat en julle met die paaie van die waarheid langs lei. Hy is immers die Gees wat die waarheid ken. Hy sal nie sommer ’n klomp los dinge uit sy eie vir julle vertel nie. Hy sal met julle praat oor wat Hy gehoor het. Verder sal Hy julle ook voorberei vir alles wat nog vir julle voorlê. Die Gees sal voortbou op wat Ek gesê en gedoen het.

14. Hy sal maak dat mense sal agterkom hoe belangrik Ek is.

15. Ek wil nie onnodig my eie beuel blaas nie, maar wat aan my Vader behoort, is ook Myne. Daarom kan Ek sê dat die Gees verder sal verkondig wat Ek gedoen en gesê het.

16. “Die tyd kom nou vinnig nader dat julle My nie meer sal sien nie. Maar dit gaan nie vir lank wees nie. Na ’n rukkie sal julle My weer sien.”

17. Sy dissipels bespiegel toe onder mekaar: “Waarvan praat Hy? Wat is al hierdie praatjies van nou sien en dan weer nie sien nie, of dat Hy na sy Vader toe gaan?

18. En wat bedoel Hy met die ‘tyd wat nader kom’? Ons wens ons het geweet, want ons verstaan nie wat hier aangaan nie.”

Gelowiges het rede om bly te wees

19. Jesus het agtergekom dat hulle brand om te hoor wat Hy hieroor te sê het. “Wonder julle oor wat Ek vir julle gesê het?

20. Laat Ek julle so ’n bietjie meer vertel. Dan sal julle beter verstaan. Julle gaan eers baie hartseer wees; so hartseer dat die trane oor julle wange gaan loop. Dan gaan die ongelowiges hande klap van blydskap. Maar julle gaan nie lank hartseer bly nie. Elke stukkie hartseer sal in ’n stuk blydskap en vreugde verander.

21. Weet julle hoe dit gaan wees? Dit sal wees soos ’n vrou wat ’n baba kry. Terwyl sy besig is om die baba te kry, is dit baie seer. Maar as die baba eers eenmaal daar is, is sy die ene glimlag en blydskap oor haar kind. Sy dink nie eens weer aan al die pyn nie.

22. Net so is dit met julle. Julle voel nou baie hartseer omdat Ek weggaan. Maar na ’n rukkie sal julle My weer sien.

23. Dan sal daar geen keer wees aan julle blydskap nie. Niemand sal julle meer hartseer kan maak nie. Wanneer dit eers gebeur, sal van al julle vrae nie een meer oorbly nie. Luister mooi. Julle sal ander dinge begin vra. Wat julle ook al van my Vader vra om my saak in hierdie wêreld te bevorder, sal God vir julle gee.

24. Tot nou toe het julle nog nooit so iets gevra nie. Neem vrymoedigheid en vra! Julle blydskap sal geen einde hê nie.”

Jesus praat reguit met die Vader - ons mag ook

25. “Ek gebruik heelwat beelde om alles te verduidelik. Oor ’n ruk sal dit nie eens meer nodig wees nie. Ek sal sommer reguit vir julle kan sê wat Ek bedoel wanneer Ek oor my Vader praat.

26. Julle sal dan ook reguit met die Vader kan praat omdat julle my vriende is. Ek sal dan nie meer nodig hê om allerhande dinge vir julle by die Vader te vra nie.

27. Hy voel oor julle net soos Ek oor julle voel. Hy het julle lief. Hy voel so oor julle omdat julle my goeie vriende is. Julle het aanvaar dat Ek van God af kom. Dit is wat gebeur het:

28. Ek het van my Vader af na julle mense toe gekom. Nou gaan Ek van julle af terug na my Vader toe.”

29. “Nou praat U reguit, op die man af, sonder allerhande beelde,” sê sy volgelinge.

30. “Ons besef al hoe meer hoeveel U weet. Ja-nee, wat daar te wete is, weet U. U hoef nie by ander mense te gaan aanklop nie. Watter beter bewys is daar dat U regtig van God af kom? Ons is in alle geval seker daarvan.”

31. Jesus sê toe: “Is julle regtig so seker van julle saak?

32. Oppas, die tyd kom nou vir My nader - wag, dit is eintlik nou al hier. Julle sal van skrik alles los en weghardloop. Sonder om links of regs te kyk sal julle net maak dat julle by die huis kom. En die ergste is, julle gaan My net so alleen los. Maar heeltemal alleen sal Ek nooit wees nie. My Vader is en bly altyd by My.

33. Ek vertel hierdie dinge vir julle met ’n goeie rede. As my vriende kan julle maar rustig wees oor alles. Die ongelowiges sal alles wel vir julle probeer moeilik maak. Moenie dat hulle julle ontstel nie. Troos julle daaraan: Ek het bewys dat Ek sterker is as enigiets of enigiemand in hierdie wêreld. Ek en niemand anders nie is die regte Wenner.”