Ou Testament

Nuwe Testament

Johannes 15:19-27 Die Boodskap (DB)

19. Hulle hou net van mense wat soos hulle is en doen wat hulle doen. Julle is nie soos hulle nie. Julle behoort aan My. Ek het julle gekies om aan my kant te kom staan. Daarvan hou die ongelowiges niks en daarom gaan julle dit ontgeld.

20. Julle onthou mos nog wat Ek vir julle gesê het: ‘Die baas is belangriker as die werker.’ Daarom is dit logies dat as hulle hulle bes probeer om dit vir My so sleg moontlik te maak, hulle mos dieselfde met julle sal probeer doen.“As hulle nie luister na wat Ek vir hulle sê nie, sal hulle mos ook nie na julle luister nie.

21. Hierdie mense ken nie my Vader wat My gestuur het nie. Daarom tree hulle so snaaks teenoor julle op. Hulle doen dit omdat julle my vriende is en na My luister.

22. Hulle hou nie van My nie, omdat Ek vir hulle kom sê het wat reg en verkeerd is. Hulle besef natuurlik hier diep in hulleself dat hulle nie reg lewe nie, maar hulle is te hardkoppig om dit te erken. Nou het hulle geen verskoning meer vir hulle swak gedrag nie.

23. Daarom haal hulle dit nou maar op My uit. Deur dit te doen maak hulle my Vader ook sleg.

24. As dit nie vir My was nie, sou niemand hulle kon blameer nie. Hulle sou dan mos nie geweet het wat reg of verkeerd is nie. Toe kom Ek. Die dinge wat Ek gedoen het, het hulle nog nooit gesien nie. Niemand kon of het dit nog ooit gedoen nie. Nou neem hulle My en my Vader bitter kwalik en Ons is vir hulle soos vyande.

25. Daarom is dit nie vreemd dat hulle so maak nie. Ons lees mos in die Skrif: ‘Hulle het niks van My gehou nie.’

26. Maar Ek gaan vir julle ’n spesiale Helper stuur wat van my Vader self af kom. Dit is die Heilige Gees en daar is geen ander Gees soos Hy nie. Dit is die ware Gees wat ook die waarheid goed ken. Hierdie Gees sal alles kom beklemtoon wat Ek gesê en gedoen het. Julle gaan ook vir die ongelowiges van My vertel en hulle probeer oorreed om Christene te word.

27. Julle kan dit doen, want julle was van die begin af saam met My.”

Lees volledige hoofstuk Johannes 15