Ou Testament

Nuwe Testament

Johannes 10:3-13 Die Boodskap (DB)

3. “Die wag by die hek sal dit dadelik vir hom oopmaak. In die kraal sal hy sy skape bymekaarmaak. Hy sal hulle op hulle name roep en hulle sal kom. Dan sal hy hulle uit die kraal lei.

4. “Hy sal voor hulle uitstap weiveld toe en hulle sal agternakom, want hulle ken sy stem.

5. Hulle sal egter nie agter vreemdelinge aanloop nie. Hulle sal eerder weghardloop, want hulle ken nie die vreemdeling se stem nie.”

6. Hoewel Jesus hierdie eenvoudige voorbeeld gebruik het, het die Joodse leiers nog steeds nie gesnap wat Hy bedoel nie.

7. “Laat Ek dit nog eenvoudiger stel. Julle kan My met die hek van die skaapkraal vergelyk. Sê My, wat is die enigste regte manier om in die kraal in te kom? Natuurlik deur die hek. “En die enigste regte manier om na God toe te kom? Natuurlik deur My!

8. “Al die ander wat voor My gekom het, het mense op die verkeerde pad gelei. Hulle is soos diewe wat mense net wou kul. Hulle het kamma redding kom aanbied, maar God se kinders het nie na hulle geluister nie.

9. Ek is vir julle soos ’n hek vir die skape. Ek is die hek deur wie julle na die weivelde van vrede en vriendskap met God kan stap. Deur My kry julle alles wat julle geestelik nodig het. Enigiemand wat sê dat julle op ’n ander manier by God kan uitkom, gaan julle net op ’n pynlike pad sit; die pad hel toe!

10. Ek is hier om vir julle die kans te gee om altyd by God te wees. By Hom sal julle die lewe voluit kan geniet. En dit is lekkerder as enigiets anders, glo My!”

11. “Ek is vir Christene wat ’n herder vir sy skape is. Wat Ek bedoel, is dit: die herder is bereid om alles te gee ter wille van sy skape, ook sy lewe. Hy sal liewer self doodgaan as dat hy sal toelaat dat sy skape iets oorkom.

12. “Iemand wat gehuur word om die skape op te pas, tree nie soos ’n herder op nie. Die skape behoort mos nie aan hom nie. Daarom gee hy nie regtig om vir die skape nie. As ’n leeu byvoorbeeld op die skape afstorm, sal die gehuurde man net maak dat hy so vinnig moontlik wegkom. Hy sal nie eens probeer om die skape te help nie. Die leeu sal al die tyd in die wêreld hê om onder die skape te baljaar.

13. Wat met die skape gebeur, maak nie eintlik vir die gehuurde man saak nie.

Lees volledige hoofstuk Johannes 10