Ou Testament

Nuwe Testament

Johannes 10:28-35 Die Boodskap (DB)

28. Vir hulle gee Ek die lewe wat nooit sal ophou nie. So sal hulle vir altyd saam met God wees. Hulle hoef nooit vir die hel bang te wees nie. Ek sal hulle versorg en beskerm. Niemand sal hulle uit my versorgende hand kan ruk nie. Daarvoor sal Ek self sorg.

29. Hierdie skape het my Vader self vir My gegee. Hulle is die belangrikste van almal. My Vader self sal ook na hulle kyk. En God sal nie toelaat dat enigiemand hulle uit sy versorgende hand kom ruk nie.

30. “Ek en die Vader dink en doen dieselfde dinge. Ja, Ons is een.”

31. Die Joodse leiers het niks daarvan gehou nie. Hulle wou Jesus sommer daar en dan met klippe doodgooi.

32. Jesus was egter te vinnig vir hulle. “Wag ’n bietjie,” sê Hy. “Ek het baie mense gehelp en goeie dinge gedoen. My Vader wou hê Ek moes dit doen. Watter een van die dinge wat Ek gedoen het, het julle so kwaad gemaak dat julle My nou met klippe wil doodgooi? Sê My.”

33. Die Jode het nie op hulle laat wag nie. “Moenie woorde in ons mond lê nie! Dit gaan nie daaroor dat jy mense gehelp het nie. Wat ons briesend maak, is dat jy God beledig. Jy, wat ’n gewone mens is, stel jouself sommer as God aan. Waar het jy dít nou al gehoor?”

34. “Sê julle Skrif nie iewers: ‘Ek, God, het gesê: Julle is gode’ nie?” vra Jesus toe.

35. “God self noem die mense ‘gode’ wat na sy boodskap geluister het. En die Bybel jok mos nie.

Lees volledige hoofstuk Johannes 10