Ou Testament

Nuwe Testament

Jakobus 4:1-4 Die Boodskap (DB)

1. Vir wat stry en baklei julle so? Wat is verkeerd? Is dit nie omdat elkeen altyd net aan homself dink nie? Kom dit nie van daardie gevoel dat net wat vir jou lekker of belangrik is, saak maak nie? Dit is maar hoe ons as mense is.

2. Julle wil gedurig allerhande dinge hê. As julle dit nie kry nie, is die duiwel los. Dan wil julle sommer moord pleeg. Julle gaan omtrent dood van jaloesie omdat iemand anders dit het. Op dié manier kan julle dit natuurlik nie kry nie. Om te baklei en mekaar te wil vernietig gaan julle niks in die sak bring nie. Julle het nie al daardie dinge nie, omdat julle dit op die verkeerde manier wil kry.

3. Hoekom vra julle nie ’n slag opreg vir God nie? Julle sê dalk: “Ja, ons bid tog, maar God gee nie vir ons wat ons vra nie.” Daar is ’n goeie rede voor: julle motiewe is verkeerd. Julle vra die goed van God sodat julle dit soos stout kinders net vir julleself kan hê. Dit gaan net om julleself en om niemand anders nie.

4. So draai julle die rug vir God en vry na die sonde. Besef julle nie dat om gedurig die verkeerde dinge te doen wat so eie aan ons as mense is, beteken om teen God te draai en sy vyand te word nie? Julle het ’n keuse. Julle kan kies om soos die mense te leef wat God nie ken nie, maar dan kies julle ook om God se vyand te word.

Lees volledige hoofstuk Jakobus 4