Ou Testament

Nuwe Testament

Jakobus 1:18-27 Die Boodskap (DB)

18. Byvoorbeeld, waar kom ons nuwe bestaan as Christene vandaan? God het besluit om dit vir ons te gee. Ons het sy boodskap gehoor en só geleer waaroor die ware lewe regtig gaan. Dit het eerste met ons gebeur. Dat dit met ons gebeur het, moet vir almal en alles ná ons ’n bewys wees dat dit wel moontlik is en kan gebeur.

19. Liewe mede-Christene, plak hierdie woorde op waar julle dit elke dag kan sien: julle moet ander mense ’n kans gee om te sê wat hulle op die hart het. Luister rustig na hulle sonder om hulle te wil doodpraat. Wanneer dit jou kans is, gee jou mening.

20. Moet jou net nie vererg nie, want wat gaan dit nou help? As jy jou humeur verloor, kan jy mos nie meer daarop ingestel wees om te doen wat God wil nie.

21. Raak daarom ontslae van elke stukkie gemors en vuilheid wat jou geestelike lewe mag toegroei of bederf. Wees liewer gehoorsaam aan die boodskap van God wat julle goed ken. Daardie boodskap hou julle soos ’n padkaart op die regte pad en daardie pad sal julle vir altyd by God uitbring.

22. Doen wat God vir jou sê. Daar wag ’n groot verrassing op jou as jy maar net daarna sit en luister en niks daaraan doen nie. Jy dink dalk jy is mooi godsdienstig, maar eintlik is jy besig om jouself lelik te kul.

23. Iemand wat net na God se woord luister sonder om te doen wat dit vra, is soos ’n man wat na homself in ’n spieël kyk. Hy sien daar hoe deurmekaar sy hare is. Hy draai dan om en stap weg sonder om sy hare te kam, omdat hy dadelik vergeet hoe deurmekaar sy hare is.

24. Hoe anders is dit nie met iemand wat moeite doen om alles van God se wil te leer nie. Deur na die wil van God te luister word jy mos vry van al die slegte dinge wat jou lewe so deurmekaar kan krap.

25. Iemand wat so ernstig in God se wil belangstel en dit wat hy daar hoor ook gaan doen, het die ware geluk en sin van die lewe ontdek.

26. Kom ons dink aan ’n voorbeeld. Iemand wat meen hy is ’n godsdienstige mens, maar wat lelik praat, baklei en skinder soos hy wil, slaan die bal baie ver mis. Hy is allesbehalwe ’n godsdienstige mens. Al die ander dinge wat hy doen om godsdienstig te probeer wees, is verniet.

27. Laat ek vir julle sê watse soort godsdiens God ons Vader as eg en eerlik sien: as jy bereid is om dié mense te help wat nie vir hulleself kan sorg nie, maar in die nood is, is jy besig met die regte godsdiens. Maar dan moet jy ook sorg dat jou eie lewe skoon bly van al die verkeerde dinge wat ’n mens in hierdie wêreld kan doen.

Lees volledige hoofstuk Jakobus 1