Ou Testament

Nuwe Testament

Hebreërs 9:1-8 Die Boodskap (DB)

1. Met die eerste ooreenkoms was daar ’n heilige plek op aarde en ook baie reëls oor hoe ’n mens God moes aanbid.

2. ’n Spesiale plek met twee kamers is reggemaak. Die eerste kamer is die “Heilige deel” genoem. Daar het hulle ’n lamp en die tafel met die heilige brood gesit.

3. Tussen die eerste en die tweede kamer het daar ’n gordyn gehang wat die twee van mekaar geskei het. Die tweede kamer is die “Heiligste deel” genoem.

4. In die kamer het die goue altaar gestaan waarop kruie gebrand is wat lekker ruik, asook die kis wat met goud oorgetrek was. Dit is die “ark” genoem. Die ark het die mense aan hulle ooreenkoms met God herinner. In die ark was daar ’n goue potjie met manna in, Aäron se kierie wat geblom het en die twee plat klipplate waarop die wet van die ooreenkoms tussen God en sy mense geskryf was.

5. Bo-op die ark het ’n beeld van twee hemelwesens gestaan wat gerubs genoem is. Hulle het hulle vlerke uitgestrek oor die deksel van die ark. Hulle het die wonderlike grootheid van God voorgestel. Maar ek kan nie nou al dié dinge in besonderhede bespreek nie.

6. Nou weet ons ten minste hoe die Heilige plek gelyk het. Die priesters het gereeld in die eerste kamer (die Heilige deel) ingegaan. Daar het hulle alles gedoen wat hulle moes.

7. Net die hoëpriester kon in die tweede kamer (die Heiligste deel) ingaan, niemand anders nie. Hy kon dit ook net een maal ’n jaar doen. Dan het hy bloed saamgevat om te offer sodat sy eie sonde deur God vergewe kon word, asook al die verkeerde dinge wat God se mense gedoen het, al het hulle dit nie eens besef nie.

8. Die Heilige Gees het hierdie dinge vir ons laat neerskryf sodat ons kan besef dat die pad na die Heiligste deel vir gewone mense soos ons nog toe was solank daar nog ’n ander vertrek, die Heilige deel, ook was.

Lees volledige hoofstuk Hebreërs 9