Ou Testament

Nuwe Testament

Hebreërs 7:12-26 Die Boodskap (DB)

12. As daar dan ’n ander soort priester kom, is dit nodig dat die wette ook verander.

13-14. Immers, Jesus kom uit die stam van Juda. Die ou wet (van Moses) sê mos dat iemand uit daardie stam nie ’n priester mag word of daardie soort werk mag doen nie.

15. Hoe dinge verander het, word nog duideliker as ons besef dat Jesus ’n priester is op dieselfde manier as wat Melgisedek dit was.

16. Wat beteken dit? Dit beteken dat as jy vra hoekom Jesus ’n priester is, jy nie vra uit watter mense Hy afstam en volgens watter reëls dit bepaal word nie. Jesus leef immers van altyd af en sal vir altyd leef. Wie Hy is en wat Hy mag wees, word nie afgelei uit wie sy menslike pa of ma is nie.

17. Want die Skrif sê self:“U sal vir altyd ’n priester wees net soos Melgisedek een was.”

18. Die ou reëls van Aäron-hulle werk nie meer nie, omdat dit nie regtig mense kon help soos dit moes nie.

19. Deur daardie wet kon die mense se saak by God nie regtig reggemaak word nie. Maar nou is daar ’n ander manier: Jesus! En dit werk, want so kom ons baie naby aan God.

20. En nog ’n ander ding: God het Jesus met ’n eed priester gemaak. Nie een van die ander priesters kan dit sê nie.

21. Toe God Jesus as priester aangestel het, het Hy gesê: “Met ’n eed het die Here sy woord gegee en sal dit nooit terugtrek of breek nie: ‘Jy is die priester vir ewig en altyd.’”

22. Daarom kan Jesus ons waarborg dat daar nou ’n baie beter ooreenkoms tussen ons en God is.

23. In die verlede was daar rye priesters, want soos hulle dood is, moes daar nuwe priesters aangestel word.

24. Met Jesus is dit glad nie so nie. Hy leef vir ewig en daarom sal Hy vir altyd priester bly. Ons hoef dus nie ’n ander priester te soek nie.

25. Juis daarom kan Hy ons saak by God regmaak wanneer ons deur Hom na God toe gaan. Hy sal altyd daar wees om ons saak by God te stel, want Hy leef vir altyd.

26. Ons het nou ’n Hoëpriester wat alles vir ons doen wat ons nodig het. God is opgewonde oor Hom. Hy het nie foute gemaak nie en kan nie van een verkeerde ding beskuldig word nie. Hy is anders as sondaars wat heeltyd foute maak. Hy is nou by God self in die hemel, so belangrik is Hy regtig. Die ander priesters moes mos dagin en daguit eers offers bring om vir God om verskoning te vra vir al die verkeerde dinge wat hulle gedoen het. Dan eers kon hulle offers bring vir die sonde van die ander mense.

Lees volledige hoofstuk Hebreërs 7