Ou Testament

Nuwe Testament

Hebreërs 6:1-12 Die Boodskap (DB)

1. Laat ons nou nie in die wegspringblokke bly sit deur vas te steek by die heel basiese dingetjies wat ons oor Christus geleer het nie. Kom ons praat ’n bietjie oor dinge wat vir grootmense in die geloof bedoel is. Ons het nou al genoeg gepraat oor hoe ons dinge moet laat staan wat op die geestelike dood uitloop, of dat ons maar net op God moet vertrou.

2. Ek gaan ook nie weer die doop of die handoplegging bespreek nie en nie weer ’n keer vir julle vertel dat ons uit die dood lewendig gaan word of dat God die ongelowige mense gaan straf nie.

3. Laat ons ’n bietjie oor dieper dinge praat, as God wil.

4. Een ding sal nie gebeur nie: sê nou daar is mense wat saam met julle in die kerk gesit en oor wie die lig van God reeds geskyn het. Hulle het al ’n voorsmaak gekry van die hemel en van wat vir hulle wag, hulle was deel van die werk van die Heilige Gees

5. en hulle ken God se wonderlike boodskap. Hulle het ook al stukkies van die krag ervaar wat met die wederkoms voluit gaan losbreek.

6. En sê nou hulle wil ten spyte van dit alles niks meer met God te doen hê nie en hulle los die kerk? Wel, dit is nie moontlik om hulle weer ’n keer na God toe terug te lei nie. Dit is so goed of hulle in hulleself die Seun van God van voor af gekruisig en Hom voor almal belaglik gemaak het.

7. Laat ek dit vir julle met ’n voorbeeld verduidelik. Sê nou daar is twee stukke grond en op albei stukke grond val daar genoeg reën. Die een stuk grond lewer die pragtigste oes op en die boer is trots daarop. Van so ’n stuk grond hou God en God sal na so ’n stuk grond kyk.

8. Maar die ander stuk grond is net vol nuttelose goed soos dorings en bossies. Dit is hopeloos en niks werd nie. God kan enige oomblik besluit om niks meer met daardie grond te doen te hê nie en om dit aan die brand te steek.

9. My liewe vriende, ek klink miskien kwaai. Nogtans is ek seker dat dit nie so sleg gaan met julle nie. Ek weet julle is God s’n en leef ook soos mense wat gered is.

10. God is regverdig. Hy sal onthou wat julle alles vir Hom doen. Hy weet dat omdat julle Hom liefhet, julle gedurig ander Christene help en altyd reg is om te help waar julle kan.

11. Ek wil graag hê julle moet aanhou om God so ywerig te dien. Hou so aan tot God alles gedoen het wat Hy beloof het.

12. Moenie lui word om God te dien nie. Doen wat die Christene voor julle gedoen het. Hulle het gekry wat God beloof het, omdat hulle geduldig was en op God bly vertrou het.

Lees volledige hoofstuk Hebreërs 6