Ou Testament

Nuwe Testament

Hebreërs 4:1-9 Die Boodskap (DB)

1. God het beloof dat sy mense eendag vir ewig saam met Hom sal rus. Dit geld ook vir ons. Ons moet seker maak dat julle almal dit uiteindelik sal haal.

2. Ons het ook die boodskap van God se redding gehoor, net soos die Israeliete van ouds. Hulle het hulle egter nie daaraan gesteur nie, en daarom was dit niks vir hulle werd nie. Hulle het dit gehoor, maar wou dit nie glo nie.

3. Dit is net ons wat op God vertrou en sy boodskap glo wat eendag vir ewig saam met God sal rus. God self het mos gesê: “Dit het My kwaad gemaak en daarom het Ek gesê: ‘Hulle sal nooit voel hoe dit is om vir ewig saam met My te rus nie.’ En Ek sal nooit van plan verander nie.”Hierdie plek waar ons vir ewig saam met God sal rus, is lankal klaar, want alles wat God gedoen het, het Hy klaargemaak toe Hy die wêreld gemaak het.

4. Iewers staan mos oor die sewende dag geskryf: “Op die sewende dag het God gerus toe Hy al sy werk klaar gedoen het.”

5. Maar daar staan tegelyk ook dat mense wat nie na God wou luister nie, nie vir ewig saam met God sal rus nie.

6. Hoe moet ons dié twee uitsprake verstaan? Twee dinge staan vas: daar is nog mense wat vir ewig saam met God sal gaan rus, maar daar is ook mense wat nie vir ewig saam met God sal rus nie. Dit is daardie mense wat wel God se boodskap gehoor het, maar nie wou doen wat Hy van hulle gevra het nie.

7. Maar God het die mense nog ’n kans gegee. Daarom het Hy nog ’n dag, wat Hy “vandag” noem, gegee. Hy het lank daarna weer deur Dawid daaroor gepraat: “Vandag, as julle God met julle hoor praat, moet julle Hom nie ignoreer nie.”

8. Hierdie rus wat God aan mense beloof het, is nie die rus wat Josua vir die Israeliete gegee het toe hy hulle in Kanaän ingelei het nie. Dan sou God mos nie jare later deur Dawid weer van ’n ander dag (die “vandag”) gepraat het nie.

9. Vir God se mense wag daar dus ’n spesiale rus soos God op die sewende dag gerus het.

Lees volledige hoofstuk Hebreërs 4