Ou Testament

Nuwe Testament

Hebreërs 12:11-19 Die Boodskap (DB)

11. Hy moet ons reghelp vir ons eie beswil, sodat ons uiteindelik net soos Hy heilig kan wees. Dit is nie lekker om gestraf te word nie, want dit maak seer, maar later pluk ons die vrugte. Iemand wat sy les uit die straf geleer het, sal ’n mens word wat doen wat God wil hê en daarom in vrede leef.

12. Julle moet nie soos ’n klomp geestelike swakkelinge leef nie. Wees entoesiasties oor wat julle as Christene doen.

13. Loop julle lewenspad met soveel oortuiging dat die mense wat agter julle aankom en maar ’n bietjie sukkel, hulle gesukkel sal afgooi en met net soveel oortuiging as julle hulle lewenspad verder sal loop.

14. Probeer julle bes om nie met ander mense te stry of te baklei nie. Leef so dat God trots kan wees op julle, want as iemand nie so leef nie, sal hy sowaar nie by die Here uitkom nie.

15. Help mekaar sodat nie een van julle dalk al die goeie dinge misloop wat God so vrylik vir ons gee nie. As daar iets onder julle gebeur wat mense ongelukkig en kwaad maak vir mekaar, moet dit met wortel en tak uitgeroei word. As dit nie gedoen word nie, word dit soos ’n giftige plant wat uiteindelik baie mense seermaak.

16. Sorg dat niemand seksueel verkeerde dinge doen of hulle rug vir God draai soos Esau gedoen het nie. Hy het mos sy reg as oudste seun en erfgenaam sommer vir ’n bord sop verruil.

17. Julle onthou ook mos wat toe gebeur het. Later wou hy sy reg as oudste seun terughê en hy het verwag dat sy pa vir die Here moes vra om dit te doen. Maar die Here wou nie. Al het hy lang trane gehuil, kon hy niks aan die situasie verander nie.

18. Julle het ook nog nie soos Israel by ’n regte berg soos Sinai gekom nie. Daar was ’n geweldige vuur op die berg, terwyl donker wolke oor die berg gehang het. Dit was donker en daar het ’n woeste storm losgebreek.

19. Die mense het ’n trompet hoor blaas en ’n geweldige stem gehoor. Hulle was so verskrik dat hulle begin smeek het dat die stem tog asseblief moes ophou. Dit was God wat met hulle gepraat het.

Lees volledige hoofstuk Hebreërs 12