Ou Testament

Nuwe Testament

Hebreërs 12:1-11 Die Boodskap (DB)

1. Die lewe is soos ’n wedloop. Op die pawiljoen het ons ’n skare mense wat voor ons met geloof en vertroue in God geleef het. Hulle moedig ons aan om gelowig vol te hou met die wedloop. Laat ons dan ontslae raak van enigiets wat ons hinder om die wedloop van die lewe behoorlik te hardloop. Dit is veral die sonde wat ons gedurig wil pootjie. Laat ons soos die ander gelowiges hardloop met alles wat ons het.

2. Laat ons maar net die wedloop hardloop deur op Jesus te konsentreer. Hy het vir ons gewys wat dit beteken om op God te vertrou en Hy sal ons tot aan die einde daarmee help, sodat ons geloof sal bly wat dit behoort te wees. Dink aan sy voorbeeld. Die skande en vernedering van die kruis was nie vir Hom te veel nie. Hy het dit alles verdra omdat Hy geweet het dat daar soveel blydskap daarna vir Hom wag. Kyk nou net, nou sit Hy op die ereplek by God in die hemel.

3. Hou Hom gedurig in gedagte. Dink aan alles wat Hy moes deurmaak, ja, aan al die slegte dinge wat die sondige mense aan Hom gedoen het. As julle sy voorbeeld volg, sal julle nooit moedeloos word en tou opgooi nie.

4. Julle het nog nie regtig so swaargekry as wat julle kan nie. In julle stryd teen al die slegte dinge het julle nog nie by die punt gekom waar julle moes kies tussen lewe en dood nie.

5. Boonop lyk dit of julle vergeet het hoe God sy kinders moed inpraat: “My kind, moenie dit sommer van jou afskud as die Here jou straf nie. Moenie sommer tou opgooi as Hy jou op jou foute wys nie.

6. As die Here iemand liefhet, wys Hy hom wat Hy van hom verwag, al maak dit soms seer. Daarom tree Hy soms ook hard op teenoor sy kinders.”

7. Leer dan iets uit hierdie slegte dinge wat met julle gebeur, want God maak met julle soos ’n pa wat regtig vir sy kinders omgee. Watter kind word nie soms so deur sy pa gestraf nie?

8. As God julle glad nie reghelp as julle verkeerd doen deur dinge met julle te laat gebeur wat nie baie lekker is nie, moet julle weet dat julle nie regtig sy kinders is nie. Alle kinders word soms gestraf.

9. Ons almal het ’n aardse pa gehad wat ons soms gestraf het. Dit het ons respek vir hom gegee. Hoeveel te meer moet ons nie na ons geestelike Vader luister nie? Dan sal ons regtig leef.

10. Ons aardse pa het ons ’n klompie jare grootgemaak so goed hy kon. Soms moes hy ons ook straf. Maar met God is daar soveel meer op die spel.

11. Hy moet ons reghelp vir ons eie beswil, sodat ons uiteindelik net soos Hy heilig kan wees. Dit is nie lekker om gestraf te word nie, want dit maak seer, maar later pluk ons die vrugte. Iemand wat sy les uit die straf geleer het, sal ’n mens word wat doen wat God wil hê en daarom in vrede leef.

Lees volledige hoofstuk Hebreërs 12