Ou Testament

Nuwe Testament

Hebreërs 11:23-35 Die Boodskap (DB)

23. Moses se pa en ma het ook so op God vertrou. Nadat hy gebore is, het hulle Moses drie maande lank weggesteek, want die koning het gesê dat die kinders doodgemaak moes word. Hulle het egter besef dat Moses baie spesiaal was en was nie bang vir wat die koning gesê het nie.

24. Omdat hy op die Here vertrou het, het Moses, toe hy groter geword het, geweier dat mense hom die kleinseun van die koning van Egipte noem.

25. Hy het sy keuse gemaak: hy sou eerder sleg behandel word saam met die mense van God as om ’n kort rukkie lekker in die sonde te baljaar.

26. Dit was vir hom baie beter dat daar op hom getrap word ter wille van die Redder wat sou kom, as om al die skatte van Egipte te hê.

27. Hy het besef dat God hom iewers in die toekoms dubbel en dwars sou beloon. Hy het toe sy goed gevat en is uit Egipte uit, sonder om bang te wees vir wat die koning sou sê of doen, want hy het op God vertrou. Hy het hom glad nie van koers af laat bring nie; dit was byna of hy God by hom kon sien, al is God onsigbaar. Dit is later in sy lewe weer bewys.

28. Hy het vir die Israeliete gesê om die paasfees te vier en bloed aan hulle deure te smeer, want hy het die Here vertrou. Hy het geweet dat die oudste kinders van Israel nie daardie nag sou doodgaan wanneer al die ander oudste kinders in Egipte doodgaan nie.

29. Dit was ook omdat die mense van God Hom vertrou het dat hulle deur die Rooisee is asof dit droë land is. Toe die Egiptenaars dit probeer het, het hulle almal verdrink.

30. Op dieselfde manier het die mure van Jerigo inmekaargesak nadat God se mense sewe dae lank elke dag om die stad getrek het.

31. En dan was daar nog Ragab, die straatvrou. Sy het in God geglo en die Israelitiese spioene gehelp. Daarom het God haar nie saam met al die ander ongehoorsame mense van die stad doodgemaak nie.

32. Wat meer hoef ek nog te sê? Ek kan heeldag besig bly om nog sulke voorbeelde te gee. Dink maar net aan Gideon, Barak, Simson, Jefta, Dawid, Samuel en al die ander manne wat God se boodskap moes verkondig.

33. Omdat hulle God vertrou het, het hulle konings op hulle plek gesit, gedoen waarvan God hou en gekry wat God beloof het. Leeus kon party van hulle nie verskeur nie,

34. vure kon ander nie brand nie en mense kon party van hulle nie met swaarde doodmaak nie. Hoewel sommige hopeloos en swak gelyk het, het God hulle sterk gemaak. Ander het weer soos tiere in oorloë geveg en die leërs van vreemde magte verwilder.

35. Dit het ook gebeur dat vroue wie se dierbares dood was hulle weer lewendig teruggekry het. Maar daar was ook ander wat eerder gekies het om gemartel te word as om onder sekere voorwaardes losgelaat te word. Hulle het daarna uitgesien om na die dood op te staan in ’n baie beter lewe by God.

Lees volledige hoofstuk Hebreërs 11