Ou Testament

Nuwe Testament

Hebreërs 11:11-21 Die Boodskap (DB)

11. Abraham was al baie oud en hy en sy vrou Sara kon nie kinders hê nie. Tog het Abraham op die Here vertrou en pa geword. Hy het geglo dat God die belofte wat Hy gemaak het, nie sou breek nie.

12. En kyk net na die gevolge: uit een man, wat eintlik self nie meer kinders kon hê nie, het daar ’n nageslag gekom wat ’n mens vandag nie meer kan tel nie. Hulle is so baie soos die sterre aan die hemel of die sandkorrels op die strand.

13. Abraham, Isak en Jakob het in hulle leeftyd nog nie alles gekry wat God beloof het nie. Nogtans het hulle op God bly vertrou tot hulle dood. Soos mense wat in die toekoms kon inkyk, het hulle gesien wat God alles nog sou doen en hulle was baie bly daaroor. Hulle het besef dat hierdie wêreld eintlik nie hulle regte blyplek is nie. Hulle was maar net tydelik hier.

14. Deur so te praat het hulle gewys dat hulle uitsien na ’n ander blyplek wat net hulle s’n sou wees.

15. As hulle terugverlang het na die land waaruit hulle oorspronklik getrek het, kon hulle maklik omgedraai en teruggegaan het.

16. Hulle het egter gesmag na ’n beter blyplek van hulle eie, ’n plek in die hemel by God. Daarom is God nie skaam om hulle God genoem te word nie. Om die waarheid te sê, Hy het vir hulle ’n spesiale blyplek by Hom reggemaak.

17-18. God wou kyk of Abraham regtig in Hom glo. Daarom het Hy gesê dat Abraham Isak moes gaan doodmaak. Abraham het na God geluister, omdat hy God vertrou het. God het immers vir hom beloof dat hy ’n nageslag sou hê en gesê: “Isak is die een deur wie Ek vir jou ’n groot nageslag sal gee.” Nou moes hy daardie seun gaan doodmaak.

19. Dit het nie vir Abraham logies geklink nie, maar hy het God vertrou. Hy het geredeneer dat God Isak weer lewendig sou maak, want Hy kan dit doen. Eintlik kan ’n mens dus sê dat Abraham wel vir Isak doodgemaak het en dat hy sy seun weer uit die dood teruggekry het.

20. Omdat Isak God vertrou het, kon hy sy seuns, Jakob en Esau, ’n goeie toekoms beloof.

21. Jakob het net so op God vertrou. Toe hy op sy sterfbed gelê het, het hy ook vir sy kinders ’n mooi toekoms beloof. So, terwyl hy op sy kierie leun, het hy met God in aanbidding gepraat.

Lees volledige hoofstuk Hebreërs 11