Ou Testament

Nuwe Testament

Handelinge 9:10-17 Die Boodskap (DB)

10. In Damaskus was daar ’n volgeling van Jesus met die naam Ananias. Die Here het in ’n visioen met hom gaan praat: “Ananias!”“Ja, Here, hier is ek,” het hy geantwoord.

11. Toe sê die Here vir hom: “Jy moet dadelik na Reguitstraat gaan. Gaan soek die huis waar ’n man met die naam Judas bly. Vra dan vir hom of jy Saulus te sien kan kry. Hy is op die oomblik besig om te bid.

12. Ek het reeds in ’n gesig vir hom gewys dat jy op pad is na hom toe om jou hande op hom te sit sodat hy weer kan sien.”

13. Ananias het geskrik toe hy dit hoor: “Here, heelwat mense het my al teen hierdie man gewaarsku. Dis hy wat u kinders in Jerusalem so wreed vervolg.

14. Nou het hy na ons toe gekom met lasbriewe van die hoëpriester om ons almal te vang.”

15. Die Here antwoord Ananias: “Doen wat Ek vir jou sê. Gaan dadelik na Saulus toe.

16. Ek het hom uitgekies vir ’n baie besondere opdrag. Hy gaan nog met baie belangrike mense oor My praat, en ook met die Jode en met mense wat aan ander volke behoort. Daar lê ’n moeilike taak vir hom voor. Saulus gaan nog baie swaarkry omdat hy oor My moet praat. Ek sal dit een van die dae vir hom wys.”

17. Ananias het toe gedoen wat die Here vir hom gesê het. In Judas se huis het hy sy hande op Saulus gaan sit. Hy sê toe vir hom: “Saulus, my broer, die Here het my na jou toe gestuur. Dit is Hy, Jesus, wat aan jou verskyn het toe jy op pad hierheen was.

Lees volledige hoofstuk Handelinge 9