Ou Testament

Nuwe Testament

Handelinge 9:1-11 Die Boodskap (DB)

1. Saulus wou die kerk met alle geweld uitroei. Hy het volgelinge van die Here oral met die dood gedreig.

2. Daarom het hy by die hoëpriester lasbriewe gekry en daarmee na die Joodse aanbiddingsplekke in Damaskus afgesit. Daar wou hy elke gelowige vang op wie hy sy hande kon lê. Sy plan was om elkeen wat in die Here geglo het terug te vat na Jerusalem om daar verhoor te word.

3. Naby Damaskus is Saulus skielik deur ’n skerp lig uit die hemel verblind. Hy het baie groot geskrik toe hy die lig sien en het soos ’n dooie op die grond neergeval.

4. Toe hoor hy ’n stem wat vir hom sê: “Saul, Saul, hoekom is jy besig om My te vervolg?”

5. “Sê asseblief vir my wie U is, Here,” het hy benoud gevra.“Dit is Ek, Jesus. Jy is besig om My te vervolg.

6. Staan nou op en gaan Damaskus toe. Daar sal jy hoor wat jy moet doen,” het Jesus geantwoord.

7. Die ander mense wat saam met Saulus gereis het, was verstom oor wat gebeur het. Hulle kon net die stem hoor, maar hulle het niks gesien nie.

8. Saulus het orent gekom. Toe kom hy agter dat hy niks kan sien nie. Sy reisgenote moes hom lei.

9. Drie dae lank was hy blind. Hy het niks geëet of gedrink nie.

10. In Damaskus was daar ’n volgeling van Jesus met die naam Ananias. Die Here het in ’n visioen met hom gaan praat: “Ananias!”“Ja, Here, hier is ek,” het hy geantwoord.

11. Toe sê die Here vir hom: “Jy moet dadelik na Reguitstraat gaan. Gaan soek die huis waar ’n man met die naam Judas bly. Vra dan vir hom of jy Saulus te sien kan kry. Hy is op die oomblik besig om te bid.

Lees volledige hoofstuk Handelinge 9