Ou Testament

Nuwe Testament

Handelinge 23:17-30 Die Boodskap (DB)

17. Paulus het toe een van die kapteins nader geroep en vir hom gesê: “U moet hierdie jongman asseblief dadelik na die bevelvoerder toe neem. Hy het iets belangriks om vir hom te sê.”

18. Dadelik het die kaptein Paulus se susterskind na die Romeinse bevelvoerder geneem en gesê: “Daardie gevangene, Paulus, het my gevra om hierdie man na u toe te bring. Hy het iets op sy hart waarvan u moet weet.”

19. Die bevelvoerder het die jongman eenkant toe geneem en hom gevra: “Wat is dit wat jy vir my wil sê?”

20. “Die Jode het besluit om u te vra om Paulus môre weer na die Joodse Raad te laat kom,” het Paulus se susterskind geantwoord. “Hulle maak asof hulle sy saak nog verder wil ondersoek.

21. U moet onder geen omstandighede toelaat dat Paulus soontoe gaan nie. Dit alles is deel van ’n set om hom dood te maak. ’n Groep van oor die 40 mans het ’n belofte afgelê dat hulle niks sal eet of drink voordat hy dood is nie. Hulle is van plan om Paulus op pad na die Joodse Raad voor te lê en dood te maak. Hulle wag net dat u toestemming gee dat hy soontoe kan gaan.”

22. Na hierdie woorde het die bevelvoerder die jongman huis toe laat gaan. “O ja, moet onder geen omstandighede vir iemand anders hiervan vertel nie,” het hy bygevoeg.

23. Die bevelvoerder het twee van sy kapteins nader geroep: “Julle moet dadelik 200 soldate gereed kry om na Sesarea te gaan. Sorg ook dat 70 ruiters en 200 lig gewapende soldate teen nege-uur vanaand reg is om hulle te vergesel.

24. Maak ook seker dat daar ’n paar esels is om Paulus en al sy bagasie te vervoer. Ons moet sorg dat hy veilig by goewerneur Feliks aankom.”

25. Die bevelvoerder het ook ’n brief aan Feliks geskryf wat soos volg gelui het:

26. Van: Claudius LisiasAan: Feliks, ons hooggeagte goewerneurEk groet u!

27. Ek het hierdie man onlangs uit die hande van die Jode gered. Dit was nadat hulle hom daar in die tempel gevang het en op die punt was om hom dood te maak. Toe ek hoor dat hy ’n Romeinse burger is, het ek soldate gestuur om hom te red.

28. Ek wou vasstel wat hy verkeerd gedoen het. Daarom het ek hom na hulle hoogste godsdienstige raad toe geneem.

29. Toe kom ek agter dat dit oor die een of ander godsdienstige verskil tussen hom en hulle gaan. Hulle het hom beskuldig dat hy hulle wet oortree. Hy het dus nie iets gedoen wat tronkstraf of die doodstraf verdien nie.

30. Kort daarna is ek in kennis gestel dat die Jode agteraf besluit het om hom dood te maak. Daarom het ek hom ter wille van sy eie veiligheid so gou moontlik na u toe gestuur. Ek het ook sy aanklaers laat weet dat hy nou in u sorg is. Hulle moet hulle saak teen hom voor u kom stel.Groete.

Lees volledige hoofstuk Handelinge 23