Ou Testament

Nuwe Testament

Handelinge 2:30-47 Die Boodskap (DB)

30. Daarom het hy geweet dat God ’n belofte aan hom gemaak het dat iemand uit sy nageslag altyd oor sy koninkryk sou heers.

31. Hy het geweet dat die Messias uit die dood sou opstaan. Dawid het gesien dat die doderyk met al sy gevare God se Gestuurde nooit gevange sou hou nie.

32. “Jesus het hierdie woorde van Dawid waar laat word. Dit het gebeur toe God Hom lewendig gemaak het. Ons weet dit, want ons het Jesus met ons eie oë gesien nadat Hy weer lewendig geword het.

33. Daarna het God die heel belangrikste plek in die hemel aan Hom gegee. Toe Jesus daar aankom, het Hy die Heilige Gees by sy Vader ontvang soos God aan Hom beloof het. Daarna het Jesus die Heilige Gees na ons toe gestuur. Dit kan julle nou met julle eie oë sien en met julle eie ore hoor.

34. “Maar nog iets oor Dawid. Ons weet hy het nie self lewendig hemel toe gegaan nie. Dawid vertel egter in een van sy psalms hoe God met die Messias praat. God het vir Hom gesê: ‘Sit hier langs My. Dit is die heel belangrikste plek in die hemel.

35. Sit hier totdat Ek al jou vyande onder jou voete vertrap het.’

36. “Almal in Israel moet vandag een ding besef: hierdie Jesus wat julle aan die kruis vasgespyker het, is nou deur God as die Here en die Messias aangestel. Hy heers nou oor almal in die hemel en op die aarde. Net Hy kan ons red.”

37. Die skare wat na Petrus gestaan en luister het, is diep deur sy woorde geraak. “Sê asseblief vir ons wat ons nou moet doen. Hoe kan ons die saak tussen ons en God regmaak?” het hulle vir die apostels gevra.

38. “Laat staan dadelik julle sondes. Kom terug na God toe,” het Petrus geantwoord. “Laat julle ook doop in die Naam van Jesus Christus. God sal julle sondes dan vergewe. Julle sal ook die Heilige Gees ontvang.

39. Hierdie groot hemelse Geskenk is bedoel vir elkeen van julle. En ook vir julle kinders. Ja, selfs vir al die ander mense wat op die oomblik nog ver van God af lewe. Binnekort sal hulle ook van Hom hoor en deur God nader geroep word.”

40. Petrus het toe nog ’n hele ruk met die skare gepraat. “Gee pad uit hierdie sondige wêreld uit,” het hy vir hulle gesê. “Dit gaan julle lewe totaal verwoes. Kom na God toe. Laat Hy julle uit die kloue van die sonde verlos. Net Hy kan dit doen.”

41. Na Petrus se woorde het ’n groot aantal mense, omtrent 3 000, tot bekering gekom. Daarna is hulle gedoop.

42. Van toe af het hierdie nuwe gelowiges gereeld bymekaargekom om te hoor wat die apostels leer. Hulle het nou in ’n splinternuwe verhouding met God en met mekaar gestaan.Hulle het ook gereeld saamgeëet en saamgebid.

43. Die apostels het groot wonderwerke onder hulle gedoen.Al die gelowiges het groot eerbied vir God gehad.

44. Hulle liefde vir Hom en vir mekaar het hulle in ’n hegte eenheid saamgesnoer.

45. Daarom was hulle bereid om selfs hulle besittings met mekaar te deel. Hulle het alles verkoop wat hulle besit het en die geld vir die armes gegee.

46. Dag na dag het hulle ook na die tempel toe gegaan om God daar te aanbid. Hulle het ook by verskillende huise saamgeëet. Hierdie maaltye was glad nie uitspattig nie. Al die gelowiges was vol vreugde.

47. Hulle het God heeltyd geprys omdat Hy so groot en goed is. Die gelowiges se lewenstyl het die ander mense in Jerusalem aangegryp. Almal het daaroor gepraat. Daarom het daar elke dag baie mense tot geloof in Christus gekom.

Lees volledige hoofstuk Handelinge 2