Ou Testament

Nuwe Testament

Handelinge 19:8-19 Die Boodskap (DB)

8. Paulus het daarna by die sinagoge in Efese gaan besoek aflê. Hy het die volgende drie maande gereeld soontoe gegaan. Keer op keer het hy met die mense gaan redeneer. Hy het hard probeer om hulle te oortuig dat hulle slegs in God se nuwe wêreld kon kom as hulle in Jesus glo. Maar baie van hulle het volstrek geweier om in Jesus te glo. Later het hulle met Paulus begin spot en lelike dinge oor Jesus daar voor almal kwytgeraak. Paulus was baie ontevrede.

9. Paulus het hulle verlaat en ’n skoolgebou by ’n man met die naam Tirannus bekom. Daar het hy elke dag saam met die gelowiges bymekaargekom en vir hulle van Jesus vertel.

10. Die volgende twee jaar het Paulus die skool gebruik om die mense te leer waaroor die evangelie presies gaan. Later het omtrent almal in Asië, Jode en Grieke inkluis, geweet wie die Here Jesus is.

11. God het Paulus ook in staat gestel om groot wonderwerke te doen. Paulus het oor soveel krag beskik dat siekes slegs van sy klere op hulle kon neersit, dan het hulle op die plek gesond geword.

12. Selfs bose magte het padgegee uit die lewens van mense wat in aanraking met Paulus se klere was.

13. In daardie tyd was daar baie Jode wat van plek tot plek rondgetrek en duiwels uit mense gedryf het.

14. Die sewe seuns van Skeva, ’n belangrike Joodse priester, was so ’n groep. Hulle het allerhande dinge gedoen om mense van duiwels te probeer bevry. Op ’n dag toe hulle in Efese was, het hulle vir ’n bose gees gesê wat in iemand was: “Ons dryf jou uit in die Naam van daardie Jesus van wie Paulus praat.”

15. Die bose gees het geantwoord: “Kyk, ek weet baie goed wie Jesus is. En ek ken ook vir Paulus. Maar julle spul ken ek van geen kant af nie!”

16. Dadelik het die man in wie die bose mag was, hulle wreedaardig aangeval. Hy was so sterk dat hulle niks teen hom kon doen nie. Hulle klere is van hulle afgeskeur. Op die ou end het hulle daarin geslaag om weg te kom, kaal en bebloed.

17. Gou-gou het almal in Efese gehoor wat met die seuns van Skeva gebeur het. Die inwoners het baie bang geword. Almal het met groot eerbied oor die Here Jesus gepraat. Baie nuwe bekeerlinge het in die openbaar vertel hoe hulle vroeër in sonde geleef en hoe Jesus hulle lewens verander het.

18. ’n Klompie hekse en towenaars het ook tot bekering gekom. Daar voor almal het hulle hulle boeke verbrand waarin al hulle towerformules opgeskryf was. Hierdie boeke was peperduur.

19. Dit was sowat 50 000 silwermuntstukke werd. (Dit was sowat 137 jaar se salaris vir ’n gewone werker!)

Lees volledige hoofstuk Handelinge 19