Ou Testament

Nuwe Testament

Handelinge 18:8-14 Die Boodskap (DB)

8. Die hoof van die sinagoge in Korinte se naam was Krispus. Toe hy hoor wat Paulus oor Jesus sê, het hy tot bekering gekom. Al die mense in sy huis het saam met hom in Jesus begin glo. Baie ander inwoners van die stad het ook gelowig geword toe hulle Paulus hoor preek. Hulle almal is kort daarna gedoop.

9. Een nag het die Here aan Paulus verskyn en vir hom gesê: “Moenie vir die mense bang wees nie. Hou aan om met hulle oor My te praat. Jy mag nooit stilbly oor die goeie nuus nie.

10. Ek is by jou. Niemand hier in Korinte sal dit waag om jou te slaan of jou in die tronk te gooi nie. Hier is baie mense wat in My glo.”

11. Daarna het Paulus nog vir ’n jaar en ses maande in die stad gebly. Hy het elke kans wat hy gekry het, aangegryp om vir die inwoners van God te vertel. Hy het hulle ook geleer om te doen wat God van hulle verwag.

12. In daardie tyd is Gallio aangestel as die nuwe goewerneur van die Romeinse provinsie Agaje. Die Jode in Korinte wat nie in Jesus geglo het nie, het toe op ’n dag besluit om Paulus by hom te gaan aankla.

13. Hulle het vir Gallio gaan vertel dat Paulus die inwoners van die stad wysmaak dat hulle in God kan glo sonder dat hulle die voorskrifte in die wet van Moses hoef te gehoorsaam.

14. Paulus was ook by toe die Jode hom daar voor Gallio aangekla het. Hy wou nog iets sê om homself te verdedig, maar Gallio het hom nie eens ’n kans gegee nie. “Kyk, as hierdie man iets verkeerds gedoen het, of as hy ’n misdadiger was, sou ek sekerlik na julle geluister het,” het Gallio vir die Jode gesê.

Lees volledige hoofstuk Handelinge 18