Ou Testament

Nuwe Testament

Handelinge 17:7-18 Die Boodskap (DB)

7. Dié twee was egter nie tuis nie, net Jason en ’n paar ander gelowiges. Die skare het hulle gevang en voor die hoofde van die stad gesleep.“Hierdie spul is besig om die wêreld om te keer,” het die skare vir die stadsvaders geskree. “En Jason laat toe dat hulle daar in sy huis bly. Hierdie mense oortree die keiser se voorskrifte. Hulle sê dat Jesus die Koning is, nie die keiser nie.”

8. Toe die skare en die leiers van die stad dié aanklagte hoor, was hulle baie kwaad. Hulle het verskriklik met Jason en die ander gelowiges geraas.

9. Maar uiteindelik het hulle hulle laat gaan nadat hulle ’n afkoopsom betaal het. Jason moes ook die versekering gee dat daar nie nog moeilikheid sou wees nie.

10. Daardie nag nog het die gelowiges vir Paulus en Silas by die stad uitgesmokkel. Hulle volgende bestemming was Berea.

11. Daar het hulle na die Joodse sinagoge gegaan en begin preek.

12. Die mense daar was darem ’n bietjie vriendeliker as in Tessalonika. Hulle het opgewonde geluister na alles wat Paulus-hulle vir hulle gesê het. Elke dag het hulle almal lang gesprekke oor die Bybel gevoer. Hulle wou vasstel of alles wat Paulus gesê het wel daarin opgeteken staan. Uiteindelik het baie Jode tot geloof in Jesus gekom; so ook ’n groep van die belangrike mans en vroue in die stad.

13. Intussen het die Jode in Tessalonika gehoor dat Paulus besig was om vir die mense in Berea van God te vertel. Hulle het dadelik soontoe gegaan en met ’n skinderveldtog teen hulle begin. Alte gou het hulle die inwoners van Berea ook teen Paulus en Silas opgesweep. Toe die skare weer met hulle optogte en betogings begin, het die gelowiges besluit om Paulus vinnig uit die stad te kry.

14. ’n Paar van hulle het hom na die kus toe gevat waar hulle ’n boot na Atene gehaal het. Silas en Timoteus het egter in Berea agtergebly.

15. Toe Paulus in Atene aankom, het hy die gelowiges uit Berea huis toe gestuur. Hy het vir hulle gesê om vir Silas en Timoteus te vra om so gou moontlik by hom aan te sluit.

16. Terwyl Paulus in Atene op Silas en Timoteus gewag het, het hy in die stad gaan rondloop.

17. Orals in die stad het hy op die een of ander tempel of afgodsbeeld afgekom. Paulus het toe na die sinagoge toe gegaan. Daar het hy behoorlik onder die Jode en diegene wat hulle tot die Jodedom bekeer het, ingeklim omdat hulle al die heidense praktyke in hulle stad duld. Paulus het ook op die markplein met die mense oor Jesus begin praat.

18. ’n Groep persone wat die filosofiese beskouings van die Epikureërs en die Stoïsyne aangehang het, het met Paulus begin stry. Party van hulle het hom sommer openlik beledig: “Watse nonsens is dit wat hierdie man kwytraak? Hy het nie ’n idee wat hy sê met al die stories wat hy vertel nie!” Ander was egter nuuskierig toe hulle hoor hoe hy oor Jesus en sy opstanding uit die dood praat. “Hier is ’n nuwe godsdiens waarvan ons meer moet hoor,” het hulle vir mekaar gesê.

Lees volledige hoofstuk Handelinge 17