Ou Testament

Nuwe Testament

Handelinge 16:4-10 Die Boodskap (DB)

4. Daarna het Paulus en Timoteus by ’n paar gemeentes gaan besoek aflê. Oral het hulle vir die gelowiges vertel van die besluite wat die kerkleiers in Jerusalem geneem het oor daardie voorskrifte wat al die gelowiges moes gehoorsaam.

5. Paulus het hierdie besoeke gebruik om die Christene se geloof te versterk. Baie mense het ook tot bekering gekom sodat die kerk oral uitgebrei het.

6. Paulus-hulle het deur die landstreke van Frigië en Galasië gereis. Hulle wou van daar af in ’n westelike rigting na die Romeinse provinsie Asië toe gaan om daar te gaan preek. Die Heilige Gees wou hulle egter nie toelaat om dit te doen nie.

7. Hulle het toe van roete verander en na Misië toe gegaan. Van daar af wou hulle dan na Bitinië reis. Maar weer ’n keer het Jesus hulle deur sy Gees gekeer om soontoe te gaan.

8. Toe het hulle deur Misië na Troas toe gereis.

9. In Troas het Paulus een nag ’n visioen gesien. Hy het gesien hoe ’n man uit Masedonië, daar in die noorde van Griekeland, voor hom kom staan en by hom pleit: “Kom dadelik na ons toe. Kom help ons!”

10. Na hierdie droom het Paulus presies geweet wat om te doen. Hy het vir ons almal wat saam met hom was, gesê om dadelik gereed te maak om Masedonië toe te gaan. Paulus was nou oortuig dat God ons almal geroep het om die goeie nuus vir daardie mense te gaan vertel.

Lees volledige hoofstuk Handelinge 16