Ou Testament

Nuwe Testament

Handelinge 15:24-33 Die Boodskap (DB)

24. Ons het gehoor dat ’n klompie mense uit Jerusalem daar by julle opgedaag het wat dinge vir julle gesê het wat julle omgekrap het. Ons verseker julle dat ons hulle nie na julle toe gestuur het nie. Hulle het sonder ons toestemming na julle toe gegaan.

25. Ons het nou eenparig besluit om twee afgevaardigdes saam met ons twee geliefde broers, Barnabas en Paulus, na julle toe te stuur.

26. Hulle was bereid om hulle lewens op die spel te plaas ter wille van ons Meester, Jesus Christus.

27. Judas en Silas kom ook nou saam met hulle na julle toe. Hulle sal vir julle alles verduidelik wat ons in hierdie brief skryf.

28. Die Heilige Gees en ons het saam besluit dat julle julle nie hoef te laat besny nie. Al wat ons van julle vra, is om die volgende voorskrifte na te kom:

29. Moenie kos eet wat aan die afgode geoffer is nie.Moenie bloed drink of vleis eet van enige dier wat verwurg is nie.Moenie julle skuldig maak aan enige vorm van seksuele losbandigheid nie.As julle hierdie voorskrifte gehoorsaam, doen julle goed. Beste wense.

30. Met die brief in die hand het die mans toe na Antiogië toe teruggekeer. Daar het hulle die hele gemeente bymekaargeroep en die brief voorgelees.

31. Almal was baie bly toe hulle hoor dat hulle nie verplig was om besny te word nie.

32. Judas en Silas, self ook profete wat die Here se wil bekendgemaak het, het toe lank met die gelowiges in Antiogië gepraat. Hulle het by ’n hele paar geleenthede met hulle oor God gepraat en hulle geloof opgebou.

33. Na ’n ruk het Judas besluit om na Jerusalem terug te keer. Hy het van almal afskeid geneem. Nadat die gemeente hom ’n veilige reis toegewens het, het hy vertrek.

Lees volledige hoofstuk Handelinge 15