Ou Testament

Nuwe Testament

Handelinge 15:10-21 Die Boodskap (DB)

10. “Vir wat wil julle dan nou God se geduld op die proef stel deur ’n swaar gewig op gelowiges se nekke te plaas wat ons en ons voorouers nie eens kon optel nie? Hoekom verwag julle van mense wat nie Jode is nie om al ons Joodse gebruike na te kom?

11. Begryp julle dan nou nog nie dat ons uit genade deur ons Here Jesus gered word nie? Ons verdien dit nie. Hy red ander mense op presies dieselfde manier as vir ons.”

12. Almal was doodstil na Petrus se toespraak. Toe staan Barnabas en Paulus op en vertel vir die vergadering van al die groot wonders wat God deur hulle onder mense van ander volke gedoen het. Niemand het dit nou nog gewaag om iets te sê nie, behalwe Jakobus.

13. Hy het opgestaan en gesê: “Broers, luister asseblief na my.

14. Petrus het nou vir ons verduidelik hoe God lank terug besluit het om mense wat nie aan ons volk behoort nie nou ook deel van sy nuwe volk te maak. Hy het dit gedoen sodat hulle Hom ook kan dien.

15. Dit is presies wat die profete vroeër geskryf het:

16. ‘Ek sal binnekort terugkom, sê die Here. Dan sal Ek Dawid se koninkryk herstel wat nou in puin lê. Ek sal alles herbou wat afgebreek is. Ek sal dit splinternuut maak. In daardie tyd sal ander mense na my nuwe koninkryk toe stroom.

17. Al die volke wat Ek na My toe uitnooi, sal dan na My toe kom. Ek, die Here, sal dit alles doen.

18. Maar julle weet tog al hierdie dinge, want Ek het dit al lank gelede aan julle bekendgemaak.’

19. “Daarom, vriende, voel ek dat ons dit nie moeilik moet maak vir mense uit ander volke wat hulle sondes laat staan en hulle tot God bekeer het nie. Al wat ons moet doen, is om ’n brief aan hulle te skryf waarin ons die volgende vir hulle sê:

20. Bly weg van die afgode af. Moenie van die kos eet wat aan hulle gode geoffer is nie. “Moet julle nie skuldig maak aan seksuele sondes nie.

21. “Moet ook nie vleis eet van diere wat verwurg is nie. En moenie bloed drink nie. Hierdie voorskrifte wat Moses vir ons gegee het, word immers nou al geslagte lank elke sabbat oor die hele wêreld heen geleer.”

Lees volledige hoofstuk Handelinge 15