Ou Testament

Nuwe Testament

2 Timoteus 1:1-8 Die Boodskap (DB)

1. Ek, Paulus, het hierdie brief geskryf. Ek is deur Christus Jesus gestuur omdat God dit so wou hê. Ek moet vir almal vertel dat dié wat in Christus Jesus glo altyd saam met God sal leef. God het dit beloof.

2. Ek skryf die brief vir my geestelike kind, Timoteus, vir wie ek so lief is. Mag God die Vader en Christus Jesus ons Here vir jou baie goed wees en jou in sy liefde omvou. Mag jy die vrede ervaar wat net Hulle vir mense kan gee.

3. Soos my voorouers God gedien het, dien ek Hom ook met ’n skoon gewete omdat ek my plig gedoen het. Wanneer ek met hierdie God in gebed praat, dink ek ook aan jou, maak nie saak of dit dag of nag is nie. Ek sê dan vir Hom baie dankie vir jou.

4. Ek onthou nog hoe jy gehuil het toe ek laas daar weg is. Ek verlang baie na jou en dit sal vir my baie lekker wees om jou weer te sien.

5. Ek dink nogal baie aan jou en hoe opreg jy op die Here vertrou. Jy aard so reg na jou ouma Loïs en jou ma Eunice. Ek weet dat jy ook op die Here vertrou soos hulle.

6. Jy onthou mos dat God jou ’n baie spesiale gawe gegee het toe ek my hande op jou gelê het. Maak seker dat daardie gawe net al hoe sterker word.

7. Die Heilige Gees, wat deur God aan ons gegee is, is nie lafhartig nie, maar sterk. Hy maak ons ook sterk, gee vir ons liefde vir ander en help ons om nie verkeerde dinge te doen nie.

8. Moenie skaam wees om oor die Here te praat nie, net so min as wat jy skaam hoef te wees dat ek, as jou vriend, ter wille van Hom hier in die tronk sit. God sal vir jou die krag gee wat jy nodig het om die swaarkry wat Christenskap mag bring, saam met my te kan verdra. God het ons mos weer sy vriende gemaak en gevra om net vir Hom te leef.

Lees volledige hoofstuk 2 Timoteus 1