Ou Testament

Nuwe Testament

2 Korintiërs 5:4-12 Die Boodskap (DB)

4. Intussen gaan dit maar bitter moeilik met ons hier in ons aardse liggaam. Ons sug en kla. Ons sien regtig uit na die dag dat hierdie sterflike liggaam van ons vervang word met ’n nuwe liggaam. Dan sal hierdie sterflike liggaam van ons plek maak vir ’n hemelse liggaam wat vir altyd sal bestaan.

5. God is besig om ons gereed te maak vir hierdie nuwe lewe wat op ons wag. Om te verseker dat ons veilig by Hom sal aankom, het Hy sy Gees aan ons gegee. Die Heilige Gees is die waarborg dat God sy woord sal hou.

6. Ons raak glad nie moedeloos nie. Ons weet dat terwyl ons nog in hierdie aardse liggaam leef, ons nog nie by die Here is nie.

7. Maar ons glo met alles in ons dat ons daarheen op pad is, ook al sien ons nog niks van hierdie nuwe lewe nie.

8. Ons is daarom vol moed. Natuurlik sal ons sommer nou dadelik hier wou padgee en by die Here gaan bly.

9. Maar op die ou end gaan dit nie oor wat ons wil hê nie. Al wat saak maak, is dat ons doen wat God van ons vra, of ons nou hier bly, of daar in die hemelse wêreld.

10. Ons almal moet in elk geval voor Christus se regterstoel gaan staan. Op die laaste dag sal Hy sy uitspraak lewer oor alles wat ons tydens hierdie lewe gedoen het. Ons sal dan beloon word volgens dit wat ons gedoen het, goed of sleg.

11. Ek het groot eerbied vir die Here. Daarom probeer ek ander mense oortuig om ook in Hom te glo. God weet dat ek opreg is wanneer ek vir Hom werk. Ek hoop julle weet dit ook.

12. Terloops, ek sê dit nie om julle te probeer beïndruk nie. Nee, ek sê dit vir julle sodat julle op die regte manier op my trots kan wees. Dan het julle ten minste ’n antwoord vir daardie mense wat so maklik spog oor al die “groot dinge” wat hulle vir die Here doen. Vir hulle gaan dit net oor uiterlike suksesse, nie oor ’n mens se innerlike lewe nie.

Lees volledige hoofstuk 2 Korintiërs 5