Ou Testament

Nuwe Testament

2 Korintiërs 13:5-13 Die Boodskap (DB)

5. Nou wil ek ernstig met julle praat: gaan kyk ’n slag deeglik na julle eie lewe. Glo julle nog? Is Christus regtig in julle?

6. As julle dié toets nie slaag nie, wag daar groot probleme op julle. Terwyl julle julle eie geloof onder die vergrootglas plaas, hoop ek julle sal agterkom dat ek hierdie toets al lankal geslaag het.

7. Ek bid ernstig tot God dat julle niks verkeerds sal doen nie. Want dis regtig nie so belangrik wat julle van my geloof dink nie. Julle kan maar sê ek is nie ’n Christen nie, solank julle net doen wat God wil hê. Dis al wat saak maak.

8. Maar julle kan daarvan seker wees dat ek nooit in die pad van die waarheid staan nie. Inteendeel. Ek doen my bes sodat die waarheid nog meer mense kan bereik.

9. Ek gee nie om om swaar te kry nie, solank julle net sterk is in julle geloof. Dan loop my hart oor van blydskap. Daarom bid ek dat julle geloof regtig sal begin groei.

10. Ek skryf al hierdie dinge terwyl ek nog nie daar by julle is nie. Dan hoef ek nie later, wanneer ek in Korinte aankom, met julle te raas en te baklei nie. Die Here het my immers aangestel om mense se geloof op te bou, nie om dit af te breek nie.

11. Ten slotte: julle lewe moet altyd vol blydskap wees. Lewe presies net soos God vir julle sê. Luister na alles wat ek vir julle gesê het. Wees eensgesind. En lewe asseblief in vrede met mekaar. Ons wonderlike God wat sy liefde oor ons almal uitgestort het en aan ons sy vrede gee, sal altyd by julle wees.

12. Groet mekaar hartlik, soos dit by broers en susters in die Here pas. Almal wat aan die Here behoort, stuur ook vir julle groete.

13. Die goedheid van die Here Jesus Christus, die oorvloedige liefde van God en die kragtige teenwoordigheid van die Heilige Gees is by julle almal. Amen.

Lees volledige hoofstuk 2 Korintiërs 13