Ou Testament

Nuwe Testament

2 Korintiërs 11:9-16 Die Boodskap (DB)

9. Ek onthou nog die keer toe ek nie ’n sent op my naam gehad het nie. Maar nie eens toe het ek dit gewaag om julle te vra om my te help nie. Nee, ’n groepie Christene uit Masedonië het my uit my geldelike verknorsing kom help. Ek was nog nooit ’n geldelike las vir julle nie. So sal dit in die toekoms ook bly.

10. Ek is baie trots daarop dat ek nie julle geld wil hê nie; Christus weet dit. Niemand daar by julle in die provinsie Agaje sal my oortuig om anders hieroor te dink nie.

11. Weet julle hoekom ek nie julle geld wil vat nie? Wel, omdat ek verskriklik baie vir julle omgee. God weet dit. Daarom wil ek vry wees om julle met die goeie nuus te dien sonder dat ek julle weer iets skuld indien ek julle geld sou vat.

12. Wat my werkswyse betref: ek is glad nie van plan om die manier waarop ek vir die Here werk te verander nie. Ek sal daardie spul wat nou by julle optree se vals motiewe ontmasker. Hulle vertel glo vir julle dat hulle ook apostels is, net soos ek.

13. Maar hulle is ’n spul leuenaars wat net maak asof hulle deur Christus as sy apostels aangestel is.

14. Ook g’n wonder nie. Satan doen die hele tyd sulke bedrieglike dinge. Wanneer dit hom pas, verander hy hom selfs in ’n engel van die lig.

15. Daarom moet julle glad nie verbaas wees wanneer mense wat vir hom werk presies dieselfde doen nie. Hulle maak maar net asof hulle doen wat God vra. Daar wag groot probleme op sulke mense. Hulle sal die straf kry wat hulle verdien.

16. Onthou julle dat ek julle vroeër gevra het om my nie te gou as ’n dwaas af te skryf nie? Of anders, doen dit tog maar sodat ek ook ’n bietjie kan spog.

Lees volledige hoofstuk 2 Korintiërs 11