Ou Testament

Nuwe Testament

2 Korintiërs 10:7-15 Die Boodskap (DB)

7. Kom ek sê nou sommer reguit vir julle: julle leen julle ore uit aan die verkeerde mense. As julle dan so seker is dat julle aan Christus behoort, moet julle asseblief ’n slag met nuwe oë na my kyk. Weet julle, ek behoort ook aan Hom. Ek is ’n Christen, net soos julle.

8. Miskien het ek vroeër ’n bietjie te veel gespog oor die gesag wat die Here aan my gegee het. Maar ek hoef regtig nie daaroor verleë voor julle te staan nie. Die Here het my immers aangestel om julle geloof op te bou. En dit doen ek ook. Ek is nie soos daardie spul vals leraars wat net daarop uit is om julle geloof af te breek nie. Daarom is ek regtig nie skaam oor my optrede nie.

9. Maar wag, kom ons gesels eers ’n bietjie oor al daardie praatjies onder julle dat ek julle met my briewe probeer bangmaak.

10. Daar by julle word mos gesê: “Paulus se briewe is ernstig en kwaai, maar hy beteken net mooi niks wanneer hy hier is nie.

11. Die arme man maak maar ’n swak indruk en sy woorde is net ’n bondel wind. Hy preek ons skoon aan die slaap.” Hoor hier, dis alles leuens. Die mense wat hierdie stories versprei, moet weet dat ek altyd dieselfde is, of ek nou ’n brief aan julle skryf en of ek in lewende lywe daar by julle is.

12. Nou ja, ek sal dit nie waag om my te vergelyk met daardie mense wat nou by julle preek en wat so baie oor hulle eie prestasies spog nie. Hulle dink geloof is ’n geestelike kompetisie. Daarom vergelyk hulle hulle gedurig met mekaar om te kyk wie is die beste gelowiges. Dit is dom. Ek sal nooit waag om so iets te doen nie.

13. Ek praat net oor die werk wat God my gegee het om te doen, oor niks anders nie. Hy het my aangestel om die goeie nuus met ander mense te deel, ook met julle.

14. Ek werk slegs binne hierdie werksterrein waaroor God my aangestel het. En julle val ook binne my werksterrein.

15. Daarom kan niemand my daarvan beskuldig dat ek in iemand anders se terrein in Korinte kom inmeng het nie. Ek glo vas dat, soos julle geloof sterker word, ek sommer nog ’n baie groter werksterrein daar by julle gaan hê.

Lees volledige hoofstuk 2 Korintiërs 10