Ou Testament

Nuwe Testament

2 Korintiërs 10:1-7 Die Boodskap (DB)

1. Ek wil nou ernstig met julle praat. Maar ek doen dit in die gesindheid van Christus, Hy wat nederig en vol deernis teenoor almal is. Daar by julle word mos gesê: “Paulus is so mak soos ’n lammetjie wanneer hy hier is. Maar wanneer hy weg is, is hy verskriklik kwaai in sy briewe.”

2. Nou vra ek julle baie mooi: moet asseblief nie maak dat ek regtig kwaai is wanneer ek binnekort na julle toe kom nie. Daardie mense wat vir almal vertel dat ek nie volgens God se wil leef nie, moet veral lig loop. Ek sal nie twee maal dink om hulle voor almal vas te vat oor hulle leuens nie.

3. Natuurlik is ons net doodgewone mense, maar ons leef glad nie volgens die reëls van hierdie wêreld nie. Nee, ons is in ’n voltydse oorlog gewikkel om die goeie nuus uit te dra.

4. Maar ons wapens is nie mensgemaakte wapens nie. Gelukkig nie! Ons staan in die Here se diens; daarom kry ons al ons wapens by Hom. Daarmee vernietig ons alles wat in die pad van die goeie nuus staan, selfs die heel sterkste vestings van die vyand. Met hierdie wapens vernietig ons elke vals argument.

5. Elke hooghartige leuen wat die ware kennis van God probeer verdraai, loop ons met God se wapens onderstebo. En elke gedagte wat deur ons koppe gaan, neem ons gevange en lewer dit aan Christus uit. Ons dink slegs wat Hy wil hê.

6. Omdat ons tot die tande toe gewapen is, staan ons gereed om elke stukkie ongehoorsaamheid te straf en daarmee af te reken. En ons gaan dit ook daar by julle kom doen sodra julle geleer het om regtig na die Here te luister.

7. Kom ek sê nou sommer reguit vir julle: julle leen julle ore uit aan die verkeerde mense. As julle dan so seker is dat julle aan Christus behoort, moet julle asseblief ’n slag met nuwe oë na my kyk. Weet julle, ek behoort ook aan Hom. Ek is ’n Christen, net soos julle.

Lees volledige hoofstuk 2 Korintiërs 10